CrimeHard newsNewsNews

Vier gewapende mans beroof egpaar op kleinhoewe

"Op die stadium blyk dit nie of die bedoeling was om hulle ernstig te beseer nie".

MBOMBELA – ‘n Egpaar is Saterdagaand erg getraumatiseerd gelaat nadat vier gewapende mans hul huis betree, hul vasgebind en die huis geplunder het.

Volgens mnr. John Meintjies, voorsitter van R40 Crime Stop Misdaad, het hy net na 19:00 die eerste boodskap ontvang van bure wat onraad vermoed het.

Daar is onmiddellik ondersoek ingestel en vasgestel dat vier mans in balaklawas, die 63-jarige mnr. Robbie Robberts en sy vrou, Estel, rondgestamp en in ‘n hoek in hul huis vasgebind het. Die eiendom is langs die R40 geleë, ongeveer agt kilometer buite die stad op pad na Barberton.

Volgens Meintjies is niemand egter ernstig beseer nie, maar het hy bygevoeg dat Estel wel verskeie kneusplekke opgedoen het.

“Op die stadium blyk dit nie of die bedoeling was om hulle ernstig te beseer nie,” het Meintjies gesê. Dit is onbekend hoe die mans toegang tot die huis verkry het.

Meintjies het gesê die geëlektrifiseerde heining is noukeuring nagegaan en daar is geen aanduiding dat die verdagtes só toegang tot die perseel kon verkry het nie. ‘n Voertuig is buite die perseel opgemerk waarmee die aanvallers vermoedelik op die vlug geslaan het.

Vier selfone, ‘n televisiestel, skootrekenaar en hardloopskoene is gesteel. Niemand is nog in verband met die voorval gearresteer nie. Meintjies het al die betrokke partye vir hul flink optrede bedank.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button