CrimeHard newsNewsNews

Skêrsaak-verdagte blameer ongeluk vir sy sielkundige toestand

Tydens Steynberg se verskyning het sy ma getuig dat hy op 13-jarige ouderdom in 'n motorongeluk was. Hy is deur die voorruit geslinger.

MBOMBELA – Mnr. Francois Steynberg, wat daarvan aangekla word dat hy ‘n sewejarige meisie se keel met ‘n skêr probeer oopkloof het, voer aan dat hy sedert die ouderdom van 13 aan ‘n mediese toestand lei wat hom sielkundig aantas. Sy moeder het Woensdagoggend in die Nelspruit Streekshof hiervan getuig.

Steynberg is op 6 Desember 2008 gearresteer en staan tereg op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer en poging tot moord. Sy inhegtenisname het gevolg nadat hy die sewejarige se keel glo onder die invloed van alkohol en dagga probeer oopsny het. Vorige getuienis het bevestig dat Steynberg sy broer daardie aand besoek het. Die twee het whiskey gedrink en Steynberg het dagga gerook, terwyl die slagoffer en Steynberg se broerskind in die huis gespeel het.

Dit was 20:00 toe Steynberg sy bewussyn verloor het. “Ek het die volgende oggend in die polisieselle wakker geword,” het hy in November 2014 getuig. Die staat het aan hom verduidelik hoe hy daar beland het. Hiervolgens het hy uit sy bed opgestaan en na die ander kamer gestap waar sy slagoffer geslaap het. Hy het haar opgetel en op sy bed gaan neerlê met die waarskuwing dat sy nie ‘n geluid moes maak nie. Die dogtertjie het om hulp geroep voordat hy haar keel glo met ‘n skêr probeer oopkloof het.

Foto’s van haar wonde is in 2010 aan die hof voorgehou – die snywond was so diep dat haar tragea (lugpyp) sigbaar was. ‘n Noodoperasie het haar lewe gered. Die kliniese sielkundige, me. Susanna Myburgh, het in November 2014 getuig dat Steynberg se sielkundige toestand tot die beweerde pleeg van die misdade kon bygedra het. Steynberg het aangevoer dat hy ten tyde van die voorval ‘n sogenaamde floute gehad het. Hy het getuig dat drank- en daggagebruik soms die verlies van sy bewussyn tot gevolg het.

Myburgh het besluit om sy reaksie onder die invloed van drank met ‘n simulasie-eksperiment te ondersoek, deur hom op 19 September 2014 dronk te maak en sy reaksie op drank waar te neem. Sy het vir hom 750ml whiskey gegee, waarna Steynberg onsamehangend begin praat en gewelddadig gereageer het. “Hy het sy bedkassie omgegooi en die gordynkap van die hospitaalsaal wat hy met ander pasiënte gedeel het, gebreek.”

Hierna is Steynberg na ‘n ander saal verskuif waar hy kalmeermiddels ontvang het. Medici het Myburgh se eksperiment ten sterkste veroordeel en ‘n klag is teen haar by die Professionele Gesondheidsraad van Suid-Afrika ingedien. Tydens Steynberg se verskyning het sy ma getuig dat hy op 13-jarige ouderdom in ‘n motorongeluk was.

Hy is deur die voorruit geslinger en is na die hospitaal in Bloemfontein geneem waar hy aangesterk het. Senior staatsadvokaat me. Isabel Erwee het deur kruisondervraging bevestig dat Steynberg nie in die hospitaal se intensiewesorgeenheid opgeneem of geopereer is nie. Sy ma het verder getuig dat die dokter vir hom ‘n anti-epileptiese middel voorgeskryf het. Hy het egter nie vir ‘n opvolgbesoek gegaan nie en het daarna geen soortgelyke medikasie geneem nie.

Steynberg se regsverteenwoordiger, adv. Pottie Potgieter, het versoek dat die saak teen Steynberg uitgestel word sodat die dokter wat hom behandel het, opgespoor kan word. Erwee het die versoek ten sterkste teengestaan. “Die beskuldigde se regspan soek al maande na hierdie dokter. Hulle het reeds Steynberg se mediese verslae probeer opspoor, maar kon dit nie kry nie. Die staat staan nog ‘n uitstel om hierdie rede teen.” Potgieter het Steynberg se saak na die getuienis van sy ma gesluit. Erwee en Potgieter is gelas om hulle betoogshoofde aan die hof te verskaf, waarna die datum van Steynberg se volgende hofverskyning bevestig sal word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button