• Mnr. André Laubscher het verlede Maandag in die Nelspruit Landdroshof verskyn op ‘n klag van diefstal. Laevelder het vroeër berig dat hierdie een van drie diefstalklagtes is wat teen hom ingestel is. Een van die aanklagtes is deur die staat teruggetrek. Die saak is tot 25 Mei uitgestel.
• Mnr. Seerane Steve Khoza (21) en mnr. Milton Masuku (27), wat daarvan beskuldig word dat hulle me. Pinky Strydom (87) in haar huis in Witrivier aangeval en beroof het, se saak is weer in die Nelspruit Streekshof uitgestel omdat die twee se weergawes mekaar inkrimineer. Die beskuldigdes is op 20 Oktober 2014 in Masoyi gearresteer nadat Strydom glo nege dae vantevore aangerand is. Haar kleinseun het op haar afgekom waar sy erg beseer op haar bed gelê het. Hulle is van roof met verswarende omstandighede aangekla en bly in aanhouding tot hulle volgende hofverskyning op 25 Mei.
• Die vyf mans wat daarvan aangekla word dat hulle Sabi, die renosterkalfie, geskiet en sy horing en voorpote verwyder het, moet op 25 Mei weer in die hof verskyn. Sabi is in Augustus verlede jaar in sy boma in Care for Wild Africa gestroop. Hy het daar aangesterk nadat sy ma in Sabi Sands gestroop is. Mnre. Thokozane Jabulane Ngwenya, Kenneth Alex Mthombothi, Promise Mandla Lamula, Mthobisi Lenox Ngwenyama en Russel Mokoena het Woensdag in die hof verskyn en die saak teen hulle is uitgestel. Ngwenyama het hierna uit die hof ontsnap en is steeds op vrye voet.
• Konst. Arnold Mashele, Morris Sehlabela, konst. Dennis Mkhonto en mnr. Phineas Dinda staan tereg op ‘n aanklag van renosterstropery op 27 Mei 2014 in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW). Hulle het onlangs in die Nelspruit Streekshof verskyn en die saak teen hulle is tot 2 Julie uitgestel.
• Mnr. Zwelentini Maphanga en mnr. Kenneth Bohani het Woensdag in die Nelspruit Streekshof verskyn waar hulle aangekla is van renosterstropery. Die twee is meer as ‘n jaar gelede gearresteer nadat renosterhorings wat in ‘n kombers toegedraai was, in die veld naby die Nasionale Krugerwildtuin se Krokodilbrug-hek gevind is. ‘n Renosterkarkas is daar naby opgespoor. Getuienis is gelei dat een van die verdagtes vasgetrek is toe hy die horings wou gaan haal. Die saak teen hulle is uitgestel en sal op 3 September hervat word.
