Community galleriesGalleriesLocal newsNewsNews

Internetsensasie by Innibos te sien

Dié 17-jarige met die goue stem gaan Laevelders se voete onder hulle uitslaan met sy weergawes van Afrikaanse treffers.

MBOMBELA – Met sy fluweelstem en sessnaarkitaar het hy vroeër vanjaar ‘n oornagsensasie geword. Maar dié matriekseun se voete is nog plat op die aarde en sy neus nog diep in die skoolboeke.

Op 24 Februarie, terwyl hy vir ‘n klastoets studeer het, het Refentse Morake (17) ‘n kort breuk geneem en ‘n paar liedjies voor sy huis in Vereeniging op sy kitaar gespeel. Wat hom só uniek maak, is die feit dat hy in Afrikaans sing.

‘n Vrou het verby gestap en gehoor hoe hy “Lisa se Klavier” en “De La Rey” sing. Sy het hom gevra of sy hom mag afneem en die video op Facebook kan laai. “Sy was ‘n ou tannie. Ek het nie gedink sy sou meer as 30 vriende op Facebook hê nie. Maar twee dae later was my foon se battery pap, want ek het kennisgewings gekry dat die video meer as 160 000 keer gekyk is.”

Van dié dag af het Refentse se videos soos ‘n veldbrand oor die internet versprei. Hy is selfs in April vanjaar genooi om by die KKNK op te tree. “Ek sou aanvanklik net vier vertonings gehad het, maar het op die ou einde omtrent 15 of 16 gespeel. Daar was die heeltyd mense wat my genooi het om saam met hulle op te tree.”

Een van dié wat hom verhoog toe genooi het, was die einste Karen Zoid.

Sy stem is nie die enigste faktor wat tot sy kitsfaam bygedra het nie. “Die idee van ‘n swart outjie wat in Afrikaans sing is nuut en verrassend, maar ek wil tog glo dat ek ‘n bietjie talent het,” grap hy.

Refentse is vanjaar op verkseie verhoë by Innibos te sien. Sy bestuurder, Shawn McBride, woon in Mbombela en baie van sy borge is ook van hier af.

Tussendeur sy nuutgevonde bekendheid en skielike drukbesige skedule, moet Refenste nog matriek deurmaak.

“Dit is ‘n groot uitdaging om my skoolwerk met my nuwe werk te balanseer. Ek gaan volgende jaar LLB regte aan die Universiteit van Potchefstroom studeer. Ek sal verseker aanhou sing, maar vir eers moet ek konsentreer op graadvang.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button