
ALKMAAR – Mnr. Mike van Zweel sr. het verlede week vir die tweede keer in sy lewe die gevreesde oproep gekry dat ‘n familielid geskiet is.
Hy het die ergste gevrees nadat hy reeds ‘n jonger broer in 1996 aan ‘n skietdood moes afstaan. Hierdie keer was dit sy seun, mnr. Mike-J van Zweel wat tydens ‘n plaasaanval geskiet is.
Mike-J is Dinsdag in die vroeë oggendure op die gasteplaas, Hawkshead, in die been geskiet toe hy sy veiligheidsdeur wou gaan sluit. “Ek het op die bank aan die slaap geraak en die honde hoor blaf.
Ek het besef dat ek nie die veiligheidsdeur gesluit het nie. Ek het opgestaan en toe ek die houtdeur oopsluit, toe staan hy (een van vier verdagtes) voor my. Hy het teruggetree en die volgende oomblik het ek ‘n geweldige slag gehoor. Die hardste in my lewe. Ek het besef ek is deel van die statistiek – ek is geskiet.”
Só vertel die 32-jarige Mike-J vanuit sy hospitaalbed, ‘n dag nadat die koeël verwyder is.
“My femur is in vier stukke,” sê hy en wys na die verbande om sy bobeen waarvan die omtrek vergelyk kan word met dié van sy middellyf kort na die aanval.
Mike-J vertel hoe hy vorentoe gesteier
het en hoe die man wat hom geskiet het sy kop teen die vloer vasgedruk en oor en oor
“shhh-shhh” gefluister het. “Hulle het dit duidelik gemaak dat my lewe op die spel is. Ek het my kop toegehou en kliphard gebid. Ek het heeltyd aan my vrou en kind gedink.” Mike-J sê hy het sy bakkie aangebied, maar die verdagtes was nie ingenome met sy aanbod nie. “Hulle het die sleutels voor my neergegooi en aangedring op skootrekenaars en kontant, wat ek nie gehad het nie.” Hy sê hy kon sien hoe aggressief die aanvallers word toe hulle nie gekry het waarna hulle soek nie. Dit was egter toé dat een van sy buurmanne tot sy redding gekom het. “Hy het die flitslig in die rigting van my huis geskyn en die verdagtes het op die vlug geslaan.” Hi-Tech is onmiddellik ontbied en Mike-J is na Mediclinic Nelspruit gehaas.
ALKMAAR – ‘n Man, mnr. Mike van Zweel, is in die vroeë oggendure by Hawkshead Gasteplaas in die Alkaaromgewing in die been geskiet toe hy sy hek wou gaan sluit.
Volgens mnr. Jacques Ainslie, bestuurder van Hi-Tech Mediese dienste, het dit Van Zweel bygeval dat hy vergeet het om die hek te sluit.
Hy het uitgestap, maar het hom op die stoep in vier verdagtes vasgeloop en is in die been geskiet.
Hy is na Mediclinic Nelspruit geneem.
Volgens Ainslie is sy toestand stabiel.
Bossies Commuity Justice het ‘n belonging van tot R50 000 uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die suksesvolle arrestasie en vervolging van die verdagtes. Skakel 082-567-5212 indien u kan help. Alle inligting sal hoogs vertroulik hanteer word.
