• Mnr. André Laubscher moet op 29 Mei weer in die Nelspruit Landdroshof verskyn vir die moontlike mediasie van diefstal- en crimen iniuria-klagtes wat in Februarie vanjaar teen hom ingestel is. Laevelder het vroeër berig dat mnr. Johan Panner Cronjé saam met Laubscher van hierdie misdrywe aangekla is. Cronjé het op 15 April selfdood gepleeg. Laubscher staan tereg op nog ‘n klag van diefstal, waarvoor hy volgens die Nelspruit Landdroshof op 3 Augustus weer moet verskyn.
• ‘n Tweedehandse motorhandelaar, mnr. Christo Coetzee, moet op 3 Junie in die hof op ‘n klag van diefstal verskyn. Hy is aangekla nadat ‘n Audi wat op sy eiendom gestoor is, van sy erf af verwyder is. Coetzee het aangevoer dat sy vervolging die uiteinde was van ‘n misverstand. ‘n Verhoordatum in die saak teen hom sal na verwagting in Junie bevestig word.
• Die Steval Pumas-buitesenter, mnr. Wilmaure Louw, het Dinsdag vlugtig in die Nelspruit Landdroshof verskyn. Hy word aangekla van die rig van ‘n vuurwapen op mnr. Gabby De Oliviera. Die voorval het na bewering in een van ons stad se nagklubs plaasgevind in die vroeë oggendure van 31 Maart. Alhoewel daar vroeër sprake was van mediasie, het De Oliviera bevestig dat Louw steeds vervolg word.
• Drie vermeende stropers sal op 9 Junie teregstaan op 22 strafregtelike aanklagte nadat hulle na bewering in 2010 drie renosters gestroop het. Mnre. Daniel Calvyn Dlamini (31), David Moses Mawilela (36) en Sifiso Luphuko (32) is op 15 November 2009 in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) gearresteer. Hulle is volgens vroeëre getuienis met twee jaggewere en ammunisie in hul besit betrap. Die drie beskuldigdes is ooreenkomstig aangekla en staan ook tereg op die onwettige betreding van die NKW. Hulle word ook daarvan aangekla dat hulle drie renosters gedood het deur ses onwettige skote af te vuur. Die beskuldigdes het hierna glo probeer om ses horings van die drie renosters te stroop.
• Mnre. Andelius Mukwebe en Jeremano Thive word aangekla van renosterstropery in die NKW. Die twee is op 19 Januarie 2013 gearresteer nadat een van die polisie se snuffelhonde hulle in die omtrek van ‘n renosterkarkas uitgesnuffel het. Die twee voer aan dat hulle gearresteer is nadat ‘n polisiehelikopter uit die bloute uit op hulle toegesak het terwyl hulle tussen Mosambiek en Suid-Afrika gestap het – stropery was glo glad nie op hul agenda nie. Beide het getuig dat hulle te voet op pad was tussen Mosambiek en Tembisa, waar hulle as haarkappers wou gaan werk. Die saak teen hulle is tot 9 Junie uitgestel.
• Mnre. Lewis Mathe (35), Osvaldo Manyike (36), Thomas Mashaba (26) en Pedro Chambale (36) het Maandag in die Nelspruit Streekhof verskyn. Hulle word aangekla van die moord op mnr. Clive Bowers, ‘n inwoner van Bundu Estate, in Januarie vanjaar. Daar is meer as 20 soortgelyke aanklagte wat die beskuldigdes in die gesig staar. Die verskeie sake teen die vier is vroeër vandeesmaand bygevoeg en hulle moet op 29 Junie weer hiervoor in die hof wees.
