Munisipaliteit probeer steeds oordrag van skougronde kniehalter
MBOMBELA – Die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit werp steeds alles in die stryd om die oordrag van die skougronde te verhoed nadat dit in Februarie vanjaar opgeveil is. Hulle weier volstrek om uitklaringsertifikate vir die hele stuk grond uit te reik. ‘n Hooggeregshofbevel Dinsdag bekom wat hulle beveel om dit te doen. Die munisipaliteit en politici …
MBOMBELA – Die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit werp steeds alles in die stryd om die oordrag van die skougronde te verhoed nadat dit in Februarie vanjaar opgeveil is. Hulle weier volstrek om uitklaringsertifikate vir die hele stuk grond uit te reik. ‘n Hooggeregshofbevel Dinsdag bekom wat hulle beveel om dit te doen.
Die munisipaliteit en politici se besware oor die veiling van die skougronde kom al ‘n lang pad. Die grond is nietemin op
26 Februarie by die Mercure Hotel opgeveil. ‘n Koopkontrak is kort daarna onderteken en die gronde waar Laevelders vir 63 jaar skou gehou het, sou teen R28 miljoen ‘n nuwe eienaar kry. Die eiendomsoordrag sloer egter weens die munisipaliteit se versuim om uitklaringsertifikate uit te reik. Die verkopers – die Laeveldse Skouvereniging – het hulle tot die Noord-Gautengse Hoë Hof gewend vir ‘n bevel wat die munisipaliteit verplig om die sertifikate uit te reik. Dit is Dinsdag toegestaan.
Die munisipaliteit het egter aangedui dat hulle ‘n hersieningsaansoek voor of op 23 Junie sal indien. Skoudirekteur mnr. Louis Kotzé het die aanloop tot die teenkanting verduidelik. “Die Laeveldse Skouvereniging is in 1949 gestig en die stadsraad het ‘n stuk grond wat vandag ‘n deel van die skougronde vorm, aan die vereniging geskenk vir skoudoeleindes. Hierdie stuk grond staan bekend as Gedeelte 39 van die Plaas Nelspruit.
“Die skouvereniging het jare later nog ‘n stuk grond gekoop wat die toegangsroete tot Gedeelte 39 is. Hierdie tweede stuk grond staan bekend as die resterende deel van Gedeelte 85 van die Plaas Nelspruit.”
Kotzé het verduidelik dat hierdie onderskeid belangrik is, omdat die twee stukke grond se eienaarskap deur twee verskillende dokumente bewys word. Elke deel grond het sy eie titel-akte (‘n dokument wat eienaarskap bevestig en die voorwaardes daaraan verbonde uiteensit). Hoewel daar vroeër voorwaardes was op Gedeelte 39 se titelakte wat die skouvereniging in baie opsigte beperk het, is hierdie voorwaardes op 16 Februarie 1983 geskrap kragtens ‘n administrateursproklamasie wat in die Staatskoerant gepubliseer is.
Die volgende voorwaardes is uit die titelakte verwyder:
i.) Die eiendom sal slegs deur die ontvanger van die eiendom gebruik word om landbouskoue te hou.
ii.) Geen handeldryf sal op die eiendom toegelaat word waarvoor enige lisensie ‘n voorvereiste is nie. Geen koöperasie sal op die eiendom aangebring word nie.
iii.) Die eiendom sal slegs vir landbouskou-doeleindes gebruik word.
iv.) Die eiendom mag nie verhuur word nie, behalwe vir sportdoeleindes of vir diegene wat die stadsraad se magtiging daarvoor het.
viii.) Die ontvanger van die eiendom mag die eiendom nie vervreem aan enige persoon of organisasie nie, tensy dit vir die doel van die voortsetting van ‘n landbouskou vervreem word.’
Die vereniging kon toe veel meer op die grond doen as vantevore. Toe hulle op albei stukke grond wou begin handel dryf, het die munisipaliteit voorgeskryf dat dorpstigting op die erwe ‘n voorvereiste was. Dit sou die skouvereniging egter miljoene uit die sak jaag. Die skouvereniging het toe besluit dat die twee stukke grond op ‘n openbare veiling verkoop sou word. Hulle sou dan skoubedrywighede elders voortsit met die geld wat uit die koop gemaak word.
“Nadat ons die munisipaliteit skriftelik van ons voorneme om die eiendomme op te veil ingelig het, is ek en die skoupresident, mnr. Flip Aitcheson gevra om met die munisipaliteit hieroor te vergader. Hulle wou hand bysit met die verkoop van die skougronde en ‘n taakspan aanstel om die proses te fasiliteer. Die vereniging was nie hiervoor te vinde nie.”
Die munisipaliteit het heftig gereageer en die vereniging in Januarie vanjaar skriftelik gewaarsku dat hulle die veiling van die skougronde sou stopsit. ‘n Kennisgewing van onteiening is twee dae voor die veiling by die skougronde se kantore afgelewer. Hiervolgens sou die skougronde twee dae later eensklaps die eiendom van die munisipaliteit word. Mnr. Johann du Preez, die vereniging se regsverteenwoordiger, het egter talle foute op die munisipaliteit se onteieningskennisgewing uitgewys. Die munisipaliteit het met ‘n brief gereageer wat die kennisgewing gekanselleer het, maar steeds gedreig dat die verkoop van die skougronde gekelder sou word.
Die veiling op 26 Februarie het egter sonder drama verloop en die suksesvolle bieër was ‘n verteenwoordiger van die Devland Cash & Carry-groep, mnr. Saleh Mohamed. Sy aanbod is egter getroef deur ‘n meer gunstige aanbod van me. Susan Fikile Mkanzi van Nghwazitt Investments (Pty) Ltd en die grond is aan dié maatskappy verkoop.
Die deposito en alle fooie verbonde aan die oordrag is reeds betaal. Die oordragproses is aan die gang gesit, maar die munisipaliteit het weer ‘n stokkie daarvoor probeer steek toe hulle geweier het om uitklaringsertifikate uit te reik. Volgens Du Preez kan die eiendom eers oorgedra word nadat hierdie sertifikate uitgereik is.
Die skouvereniging het hulle gevolglik na die Hooggeregshof gewend. Die munisipaliteit het 15 werksdae om aansoek te doen dat die hof die bevel hersien. “Die munisipaliteit beweer dat die verwydering van Gedeelte 39 se titelvoorwaardes ter syde gestel moet word,” het Du Preez verduidelik. “Hulle meen dat van hierdie voorwaardes onregmatig verwyder was.” As die hersieningsaansoek nie betyds gebring word nie, sal die munisipaliteit gedwing word om uitklaringsertifikate vir Gedeeltes 85 uit te reik sodat die eiendom oorgedra kan word.
Mbombela se burgemeester, mnr. Sibusiso Mathonsi, het die munisipaliteit se teenkanting van die eiendomsoordrag op
28 Mei bevestig.
“Ons is bereid om ons tot die hof te wend om die grond terug te kry sodat dit tot voordeel van die gemeenskap benut kan word,” het hy gesê. Dit strook met die sentiment van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) wat in Februarie vanjaar geopper is. Dié het met die vereniging in verbinding getree en versoek dat die veiling nie plaasvind nie en die grond eerder aangewend word “in lyn met die Grondwet se doel en oogmerke”.
“Ons maak beswaar teen die koloniale metode waarop die proses hanteer word. Grond behoort aan dié sonder grond en armes gegee te word,” het die SAKP gesê.
