Gemeenskap span in om Robs skoon te hou
"Sonpark voel dit is hulle bure en hulle wil graag help om die hele area netjies te laat lyk."
MBOMBELA – Gemeenskapslede is keelvol vir die slordige voorkoms in die gedeelte voor Rob Ferreira-hospitaal en het ‘n weeklikse instelling daarvan gemaak om dit op te ruim.
Mnre. Hennie van Dyk van Malelane Stene en Kobus Jacobs van Sonpark het ‘n werker aangestel om elke Dinsdag en Donderdag die area buite die hospitaal, vanaf Mostertstraat tot by die R40 en die N4, skoon te maak.
“Sonpark voel dit is hulle bure en hulle wil graag help om die hele area netjies te laat lyk,” het Kroon gesê. “Malelane Stene voel ook sterk dat die hospitaal ‘n landmerk in die stad is en dus mooi opgepas moet word. Daarom het hulle besluit om die projek te loods.”
Sonnyboy Msimango is nou permanent deur Van Dyk en Jacobs aangestel.
“Die projek saal aanhou vir solank as wat dit nodig is, so dit word as ‘n permanente aanstelling beskou,” het die projek se bemarkingsbestuurder Marita Kroon vertel.
Dié gemeenskapslede vertel dat hulle menigde male vir die gesondheidsdepartement gevra het om die area buite die hospitaal skoon te maak, maar met min sukses.

