CrimeHard newsNewsNews

Moord- en verkragtingsaak van stiefpa weer uitgestel

Volgens die ANC vroueliga, wat deur me. Lydia Maroane by die hof verteenwoordig is, mors hy net tyd. "Hy probeer net speletjies speel en hy mors die hof se tyd. Hy hoort agter tralies," het sy gesê.

MBOMBELA –  Mnr. Edgar Mabunda het Maandag met nog ‘n rede vorendag gekom vir die uitstel van sy strafsaak. Hy word aangekla van die verkragting en moord op sy agtjarige stiefdogter. Die regter, mnr. Peter Mabuse, moes vir die tweede keer in sewe maande hoor dat Mabunda nie gereed was om met sy verhoor voort te gaan nie.

Die polisie het van hom bewus geword toe die kind se ma, Mabunda se eksmeisie, by Mala-polisiestasie met ‘n selfoonboodskap van hom af opgedaag het. Hy het glo op 29 Julie 2013 vir haar ‘n SMS gestuur waarin hy beweer het dat hy haar dogter ontvoer en vermoor het.

Die polisie het haar gaan soek en haar lyk in New Forest, Thulamahashe gekry. Sy was verwurg en was net in ‘n T-hemp geklee. Daar was kouse om haar nek gebind. Volgens mediese getuienis is die dogtertjie ná haar dood verkrag.

Mabunda is op 8 Augustus 2013 gearresteer. Hy het die dag daarna vir die polisie gaan wys waar die voorval plaasgevind het. Toe hy verlede jaar in November in die hof verskyn het, het sy regsverteenwoordiger, adv. Nico du Plessis, gesê dat sy kliënt deur die polisie gedwing is om hierdie uitwysing te maak. Hierdie argument sou op 28 November 2014 verder gevoer word, maar Mabunda het versuim om daardie dag in die hof te verskyn. Hy was glo siek. Mabuse het beveel dat hy dadelik na Rob Ferreira Hospitaal toe gehaas word en sy ongesteldheid is bevestig.

Hy moes vanjaar weer op 4 Mei in die hof verskyn en het besluit om sy gesubsidieerde regsverteenwoordiger, Du Plessis, in die pad te steek. Die saak is uitgestel en hy is tot Maandag die geleentheid gegee om ‘n ander prokureur aan te stel. Mabunda het Maandag bevestig dat hy nie daarin kon slaag nie en die saak is tot gister uitgestel.

Lees ook: Beskuldig van moord, verkragting van sy stiefdogter

 

Of hy intussen ‘n prokureur kon opspoor, was teen druktyd nog nie bevestig nie. Die ANC-vroueliga het hulle weereens ten sterkste teen Mabunda se vermeende uitsteltaktiek uitgespreek. Volgens die groep, wat deur me. Lydia Maroane by die hof verteenwoordig is, mors hy net tyd. “Hy probeer net speletjies speel en hy mors die hof se tyd. Hy hoort agter tralies,” het sy gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button