
MBOMBELA – Twee vroulike drawwers is die afgelope naweek in twee afsonderlike voorvalle oorval en verkrag.
‘n Sakevrou van Howick in KwaZulu-Natal is oorval toe sy oudergewoonte haar roete gaan draf het. Volgens mediaberigte was sy minder as ‘n kilometer van haar ouerhuis toe sy oorval en in nabygeleë sloot ingesleep en verkrag is. Sy is boonop hierna van haar hardloopskoene en horlosie beroof.
‘n Amerikaanse vrou wat Sondag in die Tsitsikamma Nasionale Park gaan draf het, is ook deur twee mans oorval en verkrag. Luidens mediaberigte het hulle haar nader gewink en hoewel sy aanhou draf het, het hulle haar agterna gesit, oorval en in bosse ingesleep waar sy verkrag is.
Beth Risdon is ‘n passievolle drawwer en outeur van die blog, shutupandrun.net. Sy het die volgende wenke gedeel oor hoe vroulike drawwers hul veiligheid kan verbeter:
1. Vertel altyd vir iemand as jy gaan draf
2. Bly op paaie wat heelwat verkeer het en goed belig is. Moenie kortpaaie deur bosse vat nie
3. Indien moontlik, hardloop met ‘n hond of as deel van ‘n groep
4. Moenie met oorfone hardloop nie. Jy sal nie kan hoor as iemand jou bekruip nie
5. Vat jou foon saam sodat jy hulp kan ontbied indien nodig
6. As iemand verdag voorkom, steek die pad oor of verander jou roete
7. Wissel jou roetes af. Moenie voorspelbaar wees nie
8. Weet waarheen jy op pad is. Moenie verward voorkom nie. Dit kan jou ‘n teiken maak.
9. Moenie dat iets jou aandag aflei nie. Verdagtes teiken mense wat voorkom of hulle nie vertroud is met hulle omgewing nie
10. Volg ‘n kursus in selfverdediging
11. Moenie met ‘n poniestert draf nie. Dra jou hare eerder in ‘n bolla sodat verdagtes jou nie aan jou hare kan gryp nie
12. Kom selfversekerd voor. Hardloop regop
13. Vertrou jou instink. As iets nie reg voel nie, is dit waarskynlik nie
14. Hou pepersproei byderhand, maar wees versigtig dat aanvallers dit nie by jou afvat en op jou gebruik nie
15. As jy wel oorval word, probeer alles in jou vermoë om nie na ‘n ander plek geneem te word nie
