Die Laeveldleeu trap diep spore in SA lesers se harte
Wim Bosman se bekende strokiesverhaal, Louis die Laeveldleeu is so deel van Suid-Afrikaanse kultuur soos koeksisters en melktert saam met 'n koppie boeretroos.
MBOMBELA – Wie onthou nog vir Louis die Laeveldleeu, Bobbejaan, Aasvoël en Floors Vlakvark wat met hul pittige uitdrukkings volksbesit geword het?
Wim Bosman se bekende strokiesverhaal, Louis die Laeveldleeu is so deel van Suid-Afrikaanse kultuur soos koeksisters en melktert saam met ‘n koppie boeretroos. Hierdie bosveldstrokies het 41 jaar gelede hul verskyning in Laevelder gemaak en het tot in die laat negentigs nog gereeld in die media verskyn.
Bosman is ‘n oud-Laevelder wat 30 jaar hier gewoon het en sy liefde vir die natuur en die bosveld in ‘n strokiesprent omskep het. Dié voormalige argitek het aanvanklik nie gedink dat sy pogings enigsins die moeite werd was nie.

“Daan Kruger, die voormalige redakteur van Laevelder, ‘n goeie vriend het my toe gevra of ek nie ‘n strokiesprent wou doen nie. Ek het ingestem en ons het toe op Louis die Laeveldleeu besluit aangesien dit lekker alliterasie gehad het,” meen Bosman, wat sy eerste strokies by ‘n gaslamp geteken het.
“Ek het nooit werklik strokiesprente geteken nie. Ek het rêrig gesukkel en gedink my pogings was swak en amateuragtig.”
Die eerste strokiesprent het in Maart 1974 verskyn en elke week meer gewild geword, soveel so dat dit later die nasionale koerante gehaal het en in Engels as Louis the Lowveld Lion begin verskyn het.

Nes Peanuts, het hierdie strokiesprent lesers vermaak en vir enorme gewildheid gesorg. Vir jare was daar net een plaaslike strokiesprent wat elke week in beide plaaslike en nasionale koerante saak gemaak het.
Bosman het ook al sy eie strokiesprente en stories uitgedink en sien homself as ‘n alleenwerker wat sy oorspronklikste werk gedoen het wanneer die druk baie en die tyd min was.
“Dit het al my fokus gekos en ek sou dan ‘n strokiesprent in omtrent 20 to 25 minute klaarmaak. Dit was partykeer baie vinnig – soms net so drie minute voor spertyd. Ek sien myself as ‘n back-room boy,” noem hy.
“Vir Rapport het ek Bosveldbure geteken en nog ‘n paar karakters bygevoeg om dit ‘n ander voorkoms te gee,” vertel Bosman. Verder het hy ook vele ander strokiesprente geteken en kinderboeke geïllustreer en geskryf.
Dit sluit Kekkel en Kloek in Sarie en
Die Sleepslurp van Addo, in. Laasgenoemde is ook in Engels sowel as Japanees vertaal en het in the Excerpt Collection of World Picture Books in 1991 verskyn.
Na daar duisende leeus, bobbejane, vlakvarke, hoenders en ander diere uit sy pen ontstaan het, het Bosman nou op een spesifieke dier gefokus met sy volledige novelle Eendag was daar Renosters. “Ek wil die boek ook in Engels vertaal en kyk of meer kopieë gedruk kan word sodat dit in die nasionale parke versprei kan word.”
Bosman woon vandag in Johannesburg en hou hom besig met olieskilderye. Hy skilder graag natuurtonele en diere en is oupa van ses kleinkinders. Hy het drie kinders en woon saam met Sheryl – die vrou in sy lewe.
“My kleinkinders is vaagweg bewus van my strokiesprente, maar hulle het nou ander belangstellings met al die tegnologie deesdae,” lag hy.
Dit sal lank neem voor ons weer ‘n vegetariese diepdenkende leeu, vlymskerp bobbejaan en slapende vlakvark met sy aasvoëlgespreksgenoot sal teëkom.
