CrimeHard newsNewsNews

Polisie sukkel vir twee maande om Elaine Wedderspoon vas te trek

Hul heining was glo te hoog; haar pitbull te gevaarlik.

MBOMBELA – Na aanhoudende vrae deur Laevelder oor wanneer die veroordeelde dief Elaine Wedderspoon gearresteer sou word, is sy uiteindelik weer agter tralies – twee maande nadat ‘n lasbrief vir haar arrestasie uitgereik is.

Sy is gistermiddag by haar huis gearresteer en na die hof gebring. Sy het vandag in die hof verskyn en haar borgaansoek gaan môre voort.

Die plaaslike polisie het aanvanklik gesloer om die lasbrief te bekragtig en het verskeie verskonings aangebied. Eers het hulle kwansuis nie ‘n afskrif van die lasbrief gehad nie en toe het ‘n Amerikaanse veghond in Wedderspoon se erf hulle glo verhoed om hul werk te doen.

Sy het al drie diefstalklagtes in die gesig gestaar waarvan sy op twee skuldig gepleit het.

Nog ‘n voormalige werkgewer het Laevelder meegedeel dat Wedderspoon by hom weg is nadat sy na bewering geld van hom gesteel het. Hy het egter nie ‘n saak teen haar aanhangig gemaak nie.

Mnr. Johan van Zyl het in Desember 2001 vir haar ‘n werk gegee. Hy het kort na die aanstelling gemerk dat sy bankrekening-saldo drasties verminder het en ondersoek ingestel.  Hy het by Riverside Mall se Absa gaan aanklop, waar tjeks te voorskyn gebring is met sy vervalste handtekening op. Hy het teenoor Laevelder beweer dat sy die tjeks uitgemaak, sy handtekening daarop vervals en dit gaan wissel het. Die bank het hom vir sy verlies vergoed. Wedderspoon is vort en hy het haar eers in 2007 weer gesien.

“Ek het haar by die kerk raakgeloop,” onthou hy. “Sy’t my buite die kerk omhels en kaplaks! op die wang gesoen. Wedderspoon het opgewonde vertel dat sy onlangs tot bekering gekom het.” Hy het kort daarna in Laevelder gelees dat sy op ‘n klag van diefstal teregstaan.

Sy het in 2001 ook by Laeveld Media gewerk, waar aantygings van diefstal haar die wyk laat neem het.
Me. Maureen Oosthuizen was vir jare Laeveld Media se finansiële bestuurder. Sy onthou dat Wedderspoon as ontvangsdame by die mediahuis ingestaan het en dat daar geld weggeraak het. Wedderspoon het na ‘n poligraaftoets erken dat sy die geld gesteel het en het na ‘n volgende werkgewer toe aanbeweeg.

Topaz Office Solutions het Wedderspoon in Maart 2010 van diefstal laat aankla nadat sy R28 000 gesteel het. Sy het twee jaar later, in Junie 2012, by Teraoka gaan werk. Teraoka Suid-Afrika se finansiële bestuurder, mnr. Philip Beukes, het aan Laevelder vertel dat Wedderspoon geld by kliënte moes invorder. “‘n Kliënt het ‘n R10 000-deposito by ons Witrivier-tak inbetaal. Ons hoofkantoor in Pretoria het geweet van die inbetaling, maar die deposito het nooit op ons bankstate gereflekteer nie. Ek ry toe maar Witrivier toe om te gaan ondersoek instel. Sy het ‘n bankdepositostrokie te voorskyn gebring waarvolgens die geld inbetaal is.”

Volgens Beukes was die teller wat die strokie onderteken het se handtekening nagemaak – daardie teller het nie eers op die betrokke dag by die bank gewerk nie. “Elaine is huis toe om haar depositoboek te gaan haal. Die boek sou glo haar onskuld bewys. Sy is daar weg en het nie teruggekeer werk toe nie.” Die polisie het haar toe gearresteer. Hierdie klag is by haar 2010-diefstalsaak gevoeg en Beukes en me. Elmarie Meiring, wat die klaer was in die Topaz-saak, het keer op keer by die hof opgedaag sonder dat Wedderspoon daar was.

Sy het glo persoonlike probleme vir haar afwesigheid as rede aangebied. Toe Wedderspoon in April 2014 sonder enige verskoning versuim het om haar hofsaak by te woon, is twee lasbriewe vir haar arrestasie uitgereik.  Die polisie kon haar nie vaspen nie en gemeenskapslede wat haar in Cash Converters raakgeloop het, het die polisie gevra om haar daar te gaan arresteer.

Wedderspoon is ná die arres vir vier maande in die tronk aangehou. Die hof het borg geweier. Haar man, mnr. Johnny Wedderspoon, het plegtig belowe dat hy sy vrou by die hof sou besorg vir haar volgende hofverskynings.

Hy het sy belofte gestand gedoen en sy vrou by die hof besorg vir haar daaropvolgende verskynings totdat sy skuld erken het en gevonnis is vir diefstal en bedrog.

Sy is ‘n opgeskorte vonnis van sewe jaar tronkstraf opgelê. Dit sou in werking tree as sy sou versuim om die gesamentlike skuldbedrag van R26 000 in paaiemente af te betaal.

‘n Ingeligte bron het aan Laevelder bevestig dat Wedderspoon se skuld aan Topaz nog nie afbetaal is nie.

Die nuutste diefstalklag wat Wedderspoon in die pekel het, is in November verlede jaar deur ene me. H. Bosch van Witrivier teen haar aanhanging gemaak.  Wedderspoon het glo ‘n kragopwekker by haar gesteel.

Volgens hofrekords sou die twee die saak buite die hof skik, maar Bosch het hierteen besluit toe Wedderspoon op 10 April nie vir haar hofverskyning opgedaag het nie.

Landdros mnr. De Wet Oosthuizen het ‘n lasbrief vir haar arres uitgereik en gesê dat haar borg van R800 aan die staat verbeurd verklaar sou word as sy nie binne twee weke by die hof opdaag nie. ‘n Berig in die koerant het gemeenskapslede daarop gewys dat die polisie weer na haar op soek is, maar sy was tot gistermiddag steeds op vrye voet.

Sy het wel op Laevelder se Facebook-korrespondensie gereageer en die afgelope twee weke ingestem om met die koerant, eers by Crossing se Mugg & Bean en toe by Stefano’s te gesels. Sy het hierdie afsprake gekanselleer.

Laevelder het bevestiging ontvang dat Wedderspoon se adres reeds sedert November 2014 aan die polisie bekend is. Ten spyte hiervan is sy steeds nie in terme van die lasbrief gearresteer nie.

Polisiewoordvoerder Kapt. Dawie Pretorius het verduidelik dat die polisie haar nog nie kon vastrek nie. “Laat weet ons maar as julle weet waar sy is,” het hy versoek.

Nadat Wedderspoon verlede week by die Dierebeskermingsvereniging aangegee is vir die beweerde verwaarlosing van ‘n boelterriër in haar sorg, het Laevelder die polisie wéér versoek om aan die hof se bevel gehoor te gee. Provinsiale polisiewoordvoerder sers. Gerald Sedibe het verlede week verduidelik hoekom sy nog nie gearresteer is nie. “Kol. Gerrie Agenbag, Mbombela se speurhoof, sal die lasbrief gaan soek. Ons kry hom nie en kan nie bevestig dat daar een is nie. Derhalwe kan ons haar nie nou gaan arresteer nie,” het hy gesê.

Wedderspoon het Donderdagoggend bevestig dat dinge met haar familie nog klop- disselboom gaan. Sy het daardie aand ouma geword en gesê dat sy eintlik net die hele debakel in die verlede wou hou.

Kapt. Fawzia Olislager het Laevelder Vrydagmiddag geskakel en bevestig dat die lasbrief opgespoor is en Wedderspoon gearresteer sou word. “Ons moet net ‘n span bymekaar kry om haar te gaan haal. Sy kan moeilik raak,” het Olislager onthou. Teen gisteroggend het Olislager nie haar belofte gestand gedoen nie. Weer eens was die polisie gewapen met ‘n verskoning: “Die hek is toe en ons sal oor die heining moet klim om haar te arresteer. Daar is ook ‘n pitbull in haar erf, wat ons offisiere se veiligheid in gevaar sal stel. Ons kan dit nie doen nie.”

Olislager het egter later laat weet dat Wedderspoon wel gearresteer en na die hof gebring is.  Sy het vandag in die Nelspruit Landdroshof verskyn en haar borgaansoek gaan môre voort.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button