CrimeHard newsLocal newsNewsNews

Geveg tot die dood tydens plaasaanval

Die aanvaller het hom met ‘n skroewedraaier bygedam en herhaaldelik daarmee gesteek. “Ek het op daardie stadium nie enige pyn gevoel nie, want die water was yskoud en ek was besig om vir my lewe te veg."

‘n Plaasaanvaller het met sy lewe geboet toe hy ‘n ongewapende man (51) vroeg Dinsdagoggend die stryd aangesê het. Hy het vermoedelik verdrink.
Die man het egter self nie lig daarvan afgekom nie en die swaard van MIV/Vigs hang nou oor sy kop nadat die aanvaller hom onder andere gebyt het.

Die man en sy vrou het die vorige aand omstreeks 21:00 die deure van hul lapa gesluit en die huis ingegaan. Die lapa word deur ‘n swembad van die huis geskei.
Omstreeks 02:00 het die alarm in die lapa afgegaan. “Aanvanklik het ons gedink dis ‘n kat wat die alarm geaktiveer het, maar toe ek deur die venster kyk, het ek gesien die deur na die lapa staan oop,” het die man vertel. Hy het verkies om anoniem te bly.

Hy het buite in die rigting van die lapa geloop om te gaan ondersoek instel. “Toe ek die hoek van die swembad bereik, het ‘n man – ek skat hom so 25 – vanuit die lapa op my afgestorm.”
Sy vrou het gesien wat gebeur en dadelik die veiligheidshek gesluit uit vrees dat daar nog aanvallers kon wees. Die verdagte het die man met ‘n voorwerp oor die kop geslaan en ‘n struweling het ontstaan. Albei het in die swembad beland en ‘n bloedige geveg het gevolg.

“Die aanvaller het herhaaldelik vir my geskree, ‘You’re gonna be very sorry!’ en het met mening baklei.”
Die aanvaller het hom met ‘n skroewedraaier bygedam en herhaaldelik daarmee gesteek.
“Ek het op daardie stadium nie enige pyn gevoel nie, want die water was yskoud en ek was besig om vir my lewe te veg.
“Ek is ook nie meer so fiks soos ek eens was nie en het vinnig moeg geraak.
“Later het ek net die aanvaller probeer vashou en hom probeer wegkry van my af.”

Sy vrou het intussen hulp ontbied. “Ek het Hi-Tech geskakel, wat op hulle beurt die SAPD en mediese nooddienste in kennis gestel het,” sê sy.
Die aanvaller se liggaam het skielik slap geword en die man het bebloed uit die swembad geklim.
Daar is later ‘n tang in die swembad gevind en daar word vermoed dat die aanvaller die man daarmee oor die kop geslaan het.

“Hi-Tech, die polisie en ambulans was oomblikke later daar en ons wil hulle bedank vir die spoedige optrede,” het die egpaar gesê.

“Ek is omstreeks 02:10 deur die beheerkamer na die toneel ontbied,” sê mnr. Riaan Prinsloo van Hi-Tech.

Die man is per ambulans na Barberton-hospitaal vervoer waar hy vir veelvuldige beserings behandel is.
Een steekwond het sy oog en ‘n ander die hoofslagaar in sy nek met millimeters gemis. Daar was ook ernstige wonde aan sy linkersy en -skouer waar die indringer hom gesteek het, asook lelike bytplekke aan sy arms. Hy is tans op antiretrovirale behandeling.

Op die vraag of hulle dit nou oorweeg om van die plaas te verhuis, het hy geantwoord: “Daar is geen manier nie. Jy weet, hierdie is veronderstel om ‘n land van demokrasie te wees, maar ons sit hekke op, span drade, bou mure en elektrifiseer heinings.
“Wat gebeur met ons? Ek sal jou sê wat besig is om te gebeur.
“Ons is vinnig maar seker besig om tronke om onsself te bou. Nee, ek bly net hier, want dit is mý eiendom en my en my gesin se tuiste.
“Alhoewel ons almal nou nóg meer bedag sal wees as voorheen, sal ek beslis nie ‘n tronk om my bou nie.”

Polisiewoordvoerder konst. Tutu Nkosi het die voorval bevestig en bygevoeg dat ‘n nadoodse ondersoek gedoen word.
“Die oorledene is onbekend en ons vra die familie om na vore te kom.
“Niemand is nog as vermis aangemeld nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button