Lekker proes en lag is ‘n gewigtige saak
Melt Sieberhagen open die Boma-kuierteater: Moenie die fynproewer-stukkies vir alle smake by hierdie verhoog misloop nie.
Melt Sieberhagen het Woensdag om 12:00 die gewilde Boma-kuierteater geopen, net betyds vir die oopmaak van die kroeg. Soos the seremoniemeester Riaan Loubser opmerk, “begin ons hier al vroeg kuier”.
Goeie gewigtig is Melt se splinternuwe vertoning. Hy spog deesdae met ‘n nuwe, korter haarstyl. Dit is maar net een van die goed wat hy al verloor het. Soos hy hulle lys: sy hart, sy geduld, sy geld en gewig. Tussen sy stories en grappies verwys hy net hier en daar na sy tema self, en deel meestal eerder sy ervaring van ander mense se ongeduld met die gehoor.
Soos die staaltjie van die man wat by Heathrow land en ‘n bohaai opskop dat hy vir sy klein Swiss Army Knife uitgewys word, terwyl die tannie voor hom met skerp voorwerpe deurgelaat word!
“Boetie, wat dink jy gaan ek doen, ‘n donnerse gun brei?” het sy glo teruggekap om die meneer stil te kry.
Melt, van Proesstraat-faam, is Afrikaans. Al die pad van Ventersdorp af. Hy woon nou in Johannesburg, waar hy agtergekom het net hoe Afrikaans hy regtig is. “Ek het hierdie idee gehad dat mense in Johannesburg baie skryfbehoeftes gebruik. Amper elke oggend op die radio se traffic reports praat hulle oor ‘n ‘stationery truck‘ in die linkerbaan.”
Dis darem ‘n baie makliker taal om te praat as, so nou maar, Engels met al dié se werkwoordvorme. Kan daar dus enige twyfel wees oor die tipe sport wat die sprekers van die taal sou kon uitdink?
“Al sport wat Afrikaners nog kom uitdink, is jukskei. Stok, stok; gooi stok met stok,” beduie hy. “Dis dit, kom ons gaan braai.”
Maar voor ons kon gaan braai, moes hierdie stand-up eers behoorlik met sy gehoor meng. Hy besluit toe om te bewys dat improvisasie nie so maklik is as wat dit lyk nie. Dit is toe wel so maklik vir Melt. Of miskien was hy gelukkig dat die vrywilliger uit die gehoor, wat die geluide van sy mimiek moes maak, nie baie goed was daarmee nie? En juis daarom kon hulle vir ‘n skaterlag-sessie sorg.
Sien die video hier:
Feesfeite
‘n Ander vertoning begin elke uur op die uur by die Boma-kuierteater van 12:00 tot 18:00. Maak gerus ‘n draai en neem ‘n koel lafenissie onder die koeltebome saam met dié fynproewer-stukkies.
- Sien nog foto’s van die vertoning hier.











