FeaturesInnibos NuusLifestyleLocal newsNewsNews

Feeskunstenaar laat blywende indruk

Die feeskunstenaar beplan om 'n blywende indruk in Mbombela te laat wat lank na die einde van Innibos nog hier sal wees.

Vanjaar se feeskunstenaar, Willem Boshoff, het uit sy pad gegaan om ‘n blywende indruk in Mbombela te laat, een wat lank na die einde van Innibos nog hier sal wees.

Buiten die amptelike kunsuitstalling, Betowering waaraan hy saam met ses ander beeldende kunstenaars deelneem, het Willem onlangs een van sy ouer werke aan die stad geskenk.

willem boshoff garden of words

Garden of Words III is die derde aflewering in ‘n reeks. Dit stel ‘n gedenktuin voor, soos vir gesneuwelde soldate, maar vir plante. Dit het sy laaste rusplek onder die raasblaarbome agter die teetuin in die botaniese tuin gevind; afgehandel en oop vir die publiek, fees ofte nie.

“Volgens die internasionale unie vir die bewaring van die natuur se rooilys van bedreigde spesies sal sowat 30 000 plante wêreldwyd oor die volgende 100 jaar verdwyn.”

Willem gebruik egter slegs die name van plante wat hy deur interaksie daarmee al leer ken het. Die derde aflewering is die eerste keer in 2007 in Kaapstad uitgestal. Dit het oorspronklik uit 15 000 plantname bestaan, maar is aangepas om in die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin se beskikbare spasie te pas.

Sien die video hier:

 

Die “blomme” se blare is sakdoeke waarop die name van plante gedruk is. Dit word in ‘n klein rooi plastiekkoppie, wat ‘n papawer voorstel, gemonteer, omdat dié tipe blom met gestorwe soldate vereenselwig word. Dit word weer op ‘n plastiekstokkiestingel geplaas en in blokke, wat grafte voorstel, staan gemaak. Besoekers kan tussen hierdie “grafte” deurstap.

willem boshoff garden of words

Willem se werk by die feesuitstalling, onder die kuratorskap van John Anthony Boerma, is amper die teenoorgestelde: waar Garden of Words sintetiese materiaal gebruik om iets in die natuur voor te stel, gebruik sy Book of Sand en Prehistoric Dice II natuurlike materiale om mensgemaakte items uit te beeld.

Die munisipale gebou is nie die mees voor die hand liggende plek waar ‘n mens sal verwag om sulke treffende beeldende werke te siene te kry nie. Maar nietemin.

willem boshoff book of sand

Book of Sand word daagliks in die voorportaal gemaak sodat teatergangers tussen die produksies deur dit hier onder die oë kan kry.

Willem gebruik verskillende tipes sand om woorde en die blaaie van ‘n boek voor te stel. Hy sê hy is geïnspireer deur Suid-Afrika in ‘n stadium voor die land op kaarte aangebring is.

“Ek is aangegryp deur die idee dat sonder kaarte en ‘n GPS ‘n mens altyd onseker kan wees waar jy is. Om verdwaal te wees, veral in die woestyn, met geen hoop dat ander na jou soek nie, moet een van die mees vreesaanjaende menslike ervarings wees.”

Die sand simboliseer die onvastheid van die menslike bestaan en die woorde beskryf die verbeelde ervaring om verdwaal te wees: Nêrens, naamloos, vergete en meedoënloos.

willem boshoff pre-historic dice

Prehistoric Dice II is weer ‘n eerbetoning aan toeval. Dit vorm deel van ‘n reeks. Elkeen bestaan uit drie graniet-dobbelstene wat die noodlot van die mens in die chaos van die heelal voorstel.

“Elke dobbelsteen is ietwat misvorm deur sy unieke stel historiese en geologiese onstandighede en sy eie onderwerping aan die noodlot.”

Die feesuitstalling is oop tot Saterdag.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button