MBOMBELA – ‘n Man wat daarvan aangekla word dat hy ammunisie by sy werknemer gesteel en wapens vir stropingsdoeleindes aangepas het, het Woensdag in die Nelspruit Landdroshof verskyn. Dit was ‘n vlugtige verskyning en die saak is vir ‘n maand uitgestel, wanneer ‘n medebeskuldigde saam met hom in die hof sal wees.
Mnr. Clive Meshack Mbuyane is op 3 Maart vanjaar gearresteer nadat sy werkgewer die polisie gekontak het met die vermoede dat Mbuyane ammunisie by hom gesteel het.
Die Valke het die saak ondersoek en beeldmateriaal wat deur die kringtelevisiestelsel opgeneem is, het die werknemer se vermoede bevestig.
Brig. Hangwani Mulaudzi, die Valke se woordvoerder, het vroeër vanjaar gesê dat Mbuyane erken het dat hy ammunisie gesteel het. Verskeie gewere, jaggewere, vuurwapenonderdele en ‘n knaldemper is in sy besit gevind.
Hy het die polisie glo hierna na ‘n man se huis geneem wat na bewering die ontvanger van die gesteelde ammunisie was, maar daar was niemand tuis nie. Die polisie het ‘n soektog na die tweede verdagte en nog ‘n beskuldigde, ene mnr. Maluka, op tou gesit en dié sal nou saam met Mbuyane aangekla en sal in Julie saam met hom verskyn.
Die staat het ‘n maand se uitstel in die saak teen Mbuyane en Maluka versoek omdat een getuieverklaring nog uitstaande is. Die saak sal op 24 Julie hervat word.
