FeaturesInnibos NuusLifestyleLocal newsNewsNews

Innibos beplan om fees vanjaar met dank af te sluit

Die jaarlikse afsluitingskonsert sal vanjaar ook die lewer van 'n geestelike boodskap insluit.

Innibos se jaarlikse gospel-afsluitingskonsert het vanjaar ietwat van ‘n ander geur as voorheen. Sandra Jacobs, bemarkingsbestuurder van die fees, sê hulle het besluit om vanjaar ‘n kerkdienskomponent in te bring.

Vroeër jare tydens die Loof Hom Innibos-afsluitingskonsert was daar samesang en bekende sangers wat opgetree het. Maar vanjaar sal ds. Jaco Strauss ook ‘n geestelike boodskap lewer.

“Dis bietjie iets anders,” sê Jacobs. “Dit is vir ons belangrik om met ‘n dankseggingsdiens af te sluit om die Here te loof en te dank vir die seën van ‘n suksesvolle Innibos.”

Strauss sê die kort boodskap wat hy beplan om te lewer sal oor vrede gaan. “Dit sal fokus op die vrede wat jy beleef as jy God se vrede in jou hart het. Dan kan jy ‘n draer wees daarvan. Elke mense se hart smag daarna. As jy dit nie het nie, is jy op soek na vrede in die wêreld, waar jy dit nie regtig sal kan kry nie.

“Dit gaan nie soseer oor die afwesighedid van konflik of verskille nie, maar lê daarin dat God die vrees kom verwyder. Die boodskap sal nie ‘n oproep tot vrede wees nie, maar as jy die vrede van alle vrede ken, kan jy dit uitleef.”

Elvira Köhn en Steyn Fourie sal konsertgangers ook in samesang lei. Buiten dít en die boodskap, is daar ook ‘n pragtige musiekuitvoering.
Jacobs het by navraag gesê daar steek geen waarheid in gerugte dat die regering die fees gevra het om dié konsert af te skaf nie.

Hierdie stories het kop uitgesteek en stertjies gekry toe die naam van dié konsert, wat die ATKV jaarliks aanbied, na iVrede verander is. Dit is die organisasie se bestaande musiekproduksie.

Corlea Botha, Louis Loock, Brandon October en Ilse Klink sal die pragtige musiek saam met ‘n negestuk-orkes verskaf, alles onder die leiding van musiekregisseur Ockie Vermeulen.

Die konsert is Sondag op die feesterrein. Dit begin om 18:00 en toegang is gratis.

Die pragtige danksegging word sterk aanbeveel vir almal wat na die fees ‘n bietjie stille geestelikheid sal waardeer.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button