Leer hier meer oor natuurbewaring
Sappi bring so ‘n bietjie opvoeding na die fees hierdie jaar, gekombineer met kompetisies wat ontwerp blyk te wees om mense meer van natuurbewaring te leer.
Sappi se stalletjie in die Bosmôl bied feesgangers die geleentheid om meer van voëls te leer. Dit neem die vorm van ‘n skattejag, waar jy drie vrae moet beantwoord. Die antwoorde is versteek in die interaktiewe uitstalling.
Inligtingsborde met verskillende voëls bied deelnemers ook die geleentheid om met oorfone na die voëls se roep te luister. Daar is ook inligting oor die betrokke voëls, sowel as meer algemene brokkies oor die natuur in die algemeen.
Diegende wat mooi oplet kry hieruit die antwoorde op die vrae waaruit die kompetisie bestaan. Lekker pryse soos slimfone kan opgeraap word. Feesgangers kan ook #Selfinni-foto’s neem saam met bewegende standbeelde om die kans te hê om nog pryse te wen.
Dis miskien jammer dat die stalletjie so naby aan die kinderpretpark geleë is, want dié se luide musiek verbreek ietwat die vreedsaamheid van die nagemaakte bos in die stalletjie. Maar wat, dis ‘n musiekfees, of dan nie? Oud en jonk word aangeraai om die stalletjie te besoek om speel-speel meer oor natuurbewaring te kom leer.





