FeaturesInnibos NuusLifestyleLocal newsNewsNews

Doemprofete verkeerd bewys deur Innibos se goeie bywoningsyfer

As daar iets is wat Saterdagaand se skouspel reggekry het, was dit om 'n hernude sin van patriotisme by elke feesganger aan te wakker

MBOMBELA – Doemprofete wat voorspel het dat Innibos se bywoning ‘n knou sou vat omdat Steve Hofmeyr nie weer genooi is om op te tree nie, is verkeerd bewys. Inteendeel, 300 meer mense as verlede jaar het die fees der feeste bygewoon.

Lees: Hewige reaksie nadat Innibos Steve nie weer nooi

Die 12de aflewering van die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees het alle verwagtinge oortref en 107 301 feesgangers het deur die hekke gebeur om deel te hê aan die feestelikhede.

Topgehalte vermaak is elke aand op die hoofverhoog gelewer, maar Saterdagaand se Jacaranda Konsert was ene wat nog lank onthou gaan word.

As daar iets is wat dié aand se skouspel reggekry het, was dit om ‘n hernieude sin van patriotisme by elke feesganger aan te wakker. Dit het ons reënboognasie perfek weerspieël en gewys hoe die Suid-Afrikaanse musiekbedryf oor die dekades ontwikkel het.

Legendes soos Coenie de Villiers, Claire Johnston, en Theuns Jordaan, asook relatiewe nuwelinge soos Elvis Blue en Jason Bradley, het die harte warm laat klop met hul vertonings.

Hulle het die verhoog gedeel met Juanita du Plessis, Kurt Darren, Robbie Wessels, MoniQue, Nicholis Louw, Karen Zoid, Ray Dylan, Elizma Theron, Nadine, Kevin Leo en Toti. Dis vanselfsprekend dat dit baie kopkrap deur die organiseerders van Innibos verg om die fees elke jaar vars en interessant te hou. Saterdagaand se kunstenaars en hul liedjiekeuses het ‘n uiters treffende en oorspronklike mengelmoes tot gevolg gehad.

Vat byvoorbeeld die president van Afrikaanse rock, soos sy genoem is, Karen Zoid: sy het die trane laat opwel met met haar lewering van die klassieke treffer van Annelie van Rooyen se “Neem my op vlerke”. Hierna het sy en Francois van Coke hul reputasie as geharde rockers gestand gedoen met “Toe vind ek jou”.

‘n Paar feesgangers het op sosiale media gemor oor die Engelse treffers wat Claire gesing het, maar hulle was beslis in die minderheid. Sy het immers al vantevore by Innibos opgetree en was nog altyd ‘n gunsteling.

Liewe Heksie – flower power is Saterdagaand as die topverkoper produksie van hierdie jaar se Innibos aangewys. Dit is aan die ontslape Verna Vels, wat Liewe Heksie se stemwerk al die jare gedoen het, opgedra.

Ons almal voel die geldelike druk weens stygende brandstof- en lewenskoste. Daarvan kan stalletjiehouers getuig. Volgens me. Sandra Jacobs, media-en bemarkingsbestuurder van Innibos, het hulle meer voete as vorige jare gehad, maar opgelet dat verbruikers minder het om te bestee. Mnr. Kobus Lategan van die gewilde Kobus se gat, wat liplek-lekker roosterkoeke verkoop, moes Vrydag inderhaas Pretoria toe jaag vir nog skilpadjies (lewer en netvet oor die kole gebraai).

Lees ook: Proe van Innibos se interessante happies

Hierdie Innibos het relatief glad verloop. ‘n Massageveg het Saterdagaand in die Windhoek-tent uitgebreek, maar is vinnig ontlont. “Twee ouens het mekaar gegryp en toe sekuriteits- en polisiebeamptes inspring om die situasie te ontlont, het tientalle skielik kom hand bysit,” het Jacobs gelag. “Dit was gelukkig kortstondig. “Die watertoevoer is ook twee keer onderbreek. Behalwe vir dit, was daar geen noemenswaardige haakplekke nie. Dit was ‘n puik en ervare span wat die ratjies in die fees-enjin so mooi laat loop het,” het sy gespog.

Sondagaand se ATKV iVrede-konsert is deur 3 000 mense bygewoon.

Die kunstenaars self was net vol lof vir Innibos – die fees met hart. Van hulle kommentare op Facebook, sluit in:

• Van Coke Kartel: “dankie Innibos! Gisteraand was be***”

• Len Muller: “Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees 2015 optredes was verseker een van die hoogtepunte van my loopbaan sover. Dankie vir almal wat saamgesing het en my nuwe CD gekoop het. Dankie Nelspruit vir die gasvryheid.”

• Elvis Blue: “Dankie Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees. Wat ‘n voorreg om voor 40 000 van julle te kon staan. Dankie.”

• Willem Botha: “Vriende. Ek’t gisteraand die voorreg en ervaring gehad om voor meer as 15 000 mense te kon sing by die Innibosfees. Dit was insane. Ek wou net nog en nog en nog!”

• Joshua na die reën: “Dankie Innibos 2015. Wat ‘n ervaring! Dankie vir die ondersteuning en liefde waarmee julle my en my band ontvang het!”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button