MBOMBELA – ‘n Oudinwoner van die stad is vroeg Saterdagoggend by ‘n motorfietssaamtrek in Polokwane vermoor.
Mnr. Justin de Freitas (32) sou hierdie naweek sy klere van Red Devils, ‘n klubvertakking van Hells Angels, kry. Sy weduwee, me. Vicky de Freitas, wat self jare lank in die stad woonagtig was, het vertel dat die Limpopo Biker Council ‘n familiesaamtrek in Polokwane gehou het.
De Freitas het vroeg Saterdagoggend in ‘n kroeg op die perseel waar dit gehou is, gewerk. Sy weet self nie presies wat gebeur het nie, maar daar is aan haar gesê dat daar “n ou was wat moeilikheid gesoek het met die mense”.
De Freitas is verskeie kere met ‘n mes gesteek en is op die toneel dood verklaar. “Die verdagte is glo van Middelburg af. Sy naam is Paul en hy is reeds gearresteer,” het Vicky gesê.
De Freitas was in Mbombela by SEW Eurodrive werksaam en het ook by die tak in Polokwane gewerk. Sy roudiens sal na verwagting Vrydag plaasvind. Hy laat drie kinders, Loudene, Miguel en Tristan, agter.
