VIDEOS & FOTO’s: Die GROOT Innibos sinopsis
Die twaalfde Innibos Nasionale Kustefees het gekom en gegaan. Kom ons kyk na van die hoogste hoogtepunte!

Innibos is bekend daarvoor dat dit ‘n groot veskeidenheid kuns, musiek, pret en meer in ‘n kort tydjie inprop. Hierdie jaar was geen uitsondering en hordes feesgangers het hul gate uit geniet in die Laeveld. Hier van die die verskeie hoogtepunte wat geniet is tydens die jaar se fees:
Op die verhoog:

Onder ‘n sielsaangrypende volmaan het duisende feesgangers na die Huisgenoot Afskopkonsert gestroom. Elke liewe feesganger se hart het vuurwarm geklop tydens ‘n skyfievertoning met beelde van die ware skoonheid van ons land. Met die volkslied in die agtergrond hoorbaar, was daar geen tekort aan hoendervleis nie.

Die kykNET Legendes konsert het die Innibos feesterrein in ‘n snoesige nostalgie-kombers toegevou. Toeskouers kon hulle vir vier ure lank geheel en al oorgee aan die betowering van ons taal se mees geliefde stemme. Hierdie mans en vroue laat al vir jare harte oraloor warm klop.

Die kykNET-konsert van Vrydag is heel gepas met ‘n oomblik van stilte toegewy aan die sanger Fredi Nest, wat vroeër die dag sy stryd teen kanker verloor het, begin. Daarna het Lianie May en Jay die jolyt laat afskop met Naweeklyfie en ‘n hele paar paartjies het tussen die stoele gesokkie.

As jy gewonder het of Karen Zoid en Francois van Coke die skare van die MK-Rockverhoog sou verras met hul jongste treffer, kan jy nou rustig slaap, want hulle het. Die twee rock-legendes se gesamentlike treffer, “Toe vind ek jou” het gesorg vir hoendervleis, en selfs ‘n paar trane, tydens dié verhoog se opening Vrydagaand.
Treffende toneel

Afrikaanse debuutproduksies by kunstefeeste weerspieël die lewenskrag al dan nie van Afrikaans as taal vir die meer ernstige teatergangers, wie se harte en emosies aangeroer wil word deur oorspronklike temas, dramatiese stukrag en ‘n ervaring wat ‘n mens bybly.
Die Waarsêer van Barry van Rensburg val in dié kategorie van werke wat as bonus ook verteenwoordigend is van ‘n hoë mate van nostalgie wat bloot beteken dat dit ‘n vervloë tyd verteenwoordig waarna baie mense heimlik terugverlang – of hulle dit nou wil erken of nie.

Liewe Heksie is volksbesit en een van die nimlikste ikone in Afrikaans. Hierdie Levinia-dolla bekoor oud en jonk al vir meer as 50 jaar. Hannes van Wyk se Koning Rosebravo (skuus… krans) sal menige tannie hartkloppings gee en Zanne Stapelberg, a la Koningin By, se hoë C sal selfs Tafelberg laat antwoord gee. Daar is min teaterstyle wat kinders en volwassenes spontaan vermaak soos ‘n goeie pantomime.
In die Nuus

Innibos het Deon Opperman vir sy bydrae tot die taal- en teaterwêreld tydens ‘n geleentheid wat deur uitsoekgaste in die bedryf bygewoon is, vereer. Sy bydrae as dramaturg, regisseur en vervaardiger loop hom vooruit en hy spog reeds met twee Hertzog-prystoekennings, asook verskeie ander soos die Vita-toekennings, ‘n Fleur de Cap-dramatoekenning en die Eugéne Marais-literêre prys.

Video: Die val van Wasserfall – Innibos 2015
‘n Hele paar mense voor hom het die ys gebreek, en hoewel hy baie harte breek, kon hy nie die glaskas op die verhoog betyds breek nie. Hy het tydens Innibos se Huisgenoot Afskopkonsert Woensdagaand ‘n skouspelagtige verhoogproduksie beplan, wat effens verkeerd geloop het.

Dis die nuwe kurator van die feesuitstalling, John Anthony Boerma, self ‘n plaaslike kunstenaar wat gekom en gegaan het en nou weer terug is vir opdrag. Boerma is vandag ‘n gerekende kunskenner wat hoofsaaklik in die buiteland sy tande geslyp het. Vyftien jaar gelede reeds was hy grootliks veranwoordelik vir die byeenbring van die kunsversameling in die Provinsiale Wetgewer.
