CrimeHard newsNewsNews

Ninja-saak uitgestel tot Augustus

Staatsgetuies het verlede Maandag op die agtergrond tot drie van die vier se arrestasie meer as drie jaar gelede voortgebou.

Die beskuldidges het glo samoerai swaarde as wapens gebruik. (Foto: deviantart.com)
Die beskuldidges het glo samoerai swaarde as wapens gebruik. (Foto: deviantart.com)

MBOMBELA – Die vier sogenaamde ninjas van die Onderberg wat in 2011 gearresteer is nadat hulle glo samoeraiswaarde in die roof van plase gebruik het, het verlede week weer in die Nelspruit Streekshof verskyn.

Staatsgetuies het verlede Maandag op die agtergrond tot drie van die vier se arrestasie meer as drie jaar gelede voortgebou. Mnre. Moses Silinda (31), Pieto Gwambe (28), Sam Chauke (37) en Venas Gavane (28) staan tereg op onder meer drie klagtes van roof met verswarende omstandighede, menseroof, en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die gebeure wat drie van die vier (Silinda, Chauke en Gavane) se arrestasie voorafgegaan het, is deur verskeie staatsgetuies aan die hof voorgehou. AO Ettienne Hietge het getuig dat die beskuldigdes deur van hul slagoffers geëien is tydens ‘n foto-uitkenningsparade. Laevelder het daarna foto’s van die verdagtes gepubliseer en die gemeenskap is gewaarsku om op die uitkyk te wees.

Volgens vorige getuienis deur konst. Delphas Mlandzi is drie van daardie verdagtes op 23 November 2011 in die omgewing van nog ‘n rooftoneel opgemerk. Hy is daardie oggend na die toneel ontbied waar hy op ‘n skoenspoor afgekom het. ‘n Gipsafdruk is daarvan gemaak.

AO Ivan Swart het getuig dat ‘n paar All Star-tekkies tydens die inhegtenisname van een van die beskuldigdes gevat is. “Ons het die gipsafdruk wat op die rooftoneel gemaak is met die verdagte se regterskoensool vergelyk. Dit stem in talle opsigte ooreen met die spoor op die rooftoneel.”

Volgens mnr. Abraham Jacobus Smit se getuienis is drie verdagtes daardie selfde dag tydens ‘n gemeenskapspoging gearresteer. Laevelder het vroeër berig dat meer as 100 mense saam met die polisie en sekuriteitsmaatskappye by die soektog na die drie betrokke was.

Reserviskonstabel Nickie Horn het verlede Maandag getuig dat hy een van die polisielede was wat drie van die vier beskuldigdes help vastrek het. Hy het getuig dat die beskuldigdes in ruigtes opgespoor en gearresteer is. ‘n Pistool is by een van die beskuldigdes gekonfiskeer. Die polisie het ook op ‘n blou rugsak en selfone beslag gelê. Die vierde beskuldigde, mnr. Pieto Gwambe, is later daardie aand gearresteer.

Die saak sal in Augustus hervat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button