CrimeHard newsNewsNews

Bejaarde egpaar doen die ongewone tydens gewapende roof

"Ons glo dit is vir die beter, maar as jou strepie getrek is, is hy getrek. Hulle is en bly maar altyd 'n stappie voor. Ons was net gelukkig en ek kan net sê 'amazing grace'."

MBOMBELA – ‘n Egpaar (albei 73) en hul 12-jarige kleindogter het verlede Saterdag op ‘n ongewone wyse gereageer toe twee mans hulle net voor 21:00 by hul huis langs die R40 onderweg na Barberton, oorval het.

Pleks daarvan om terug te baklei, het mnr. Desmond Bushney herhaaldelik die aanvallers, waarvan een gewapen was en die ander ‘n stok by hom gehad het, geseën.

“Desmond het aanhoudend gesê, ‘God bless you’, terwyl ek ons kleindogter, Kaelee, getroos het,” vertel sy vrou, Hendrien.

Die egpaar sê dat dit opvallend was hoe dié mans, wat elkeen ‘n mus en ‘n lap oor hul gesigte gedra het, waarin daar twee gate gesny is om deur te sien, skielik rustig geraak het.

“Een het wel in Afrikaans vir my gesê: ‘Sit oom of ek skiet jou’. Ek het vir myself gesê ek baklei nie teen koeëls nie en eerder gevra dat die Here hulle moet seën,” vertel Desmond wat tydens die voorval ook ‘n asma-aanval gekry het. Volgens hulle het hulle toegang tot die huis deur die kombuis gekry. Alhoewel hulle kontant en vuurwapens geëis het, het hulle slegs op hul selfone, skootrekenaar en GPS, asook hul trouringe beslag gelê. Hulle het toestemming gekry om dit self af the haal.

“Hulle het aggressief hier ingestorm en net skielik bedaar. Dit het skaars vyf minute geduur, toe is hulle vort. Desmond het aanhou sê, ‘God bless you’ en toe hulle by die deur kom, het een van die mans omgedraai en Desmond salueer. Of dit was om hom te spot, weet ek nie,” vertel Hendrien.

“Dalk het hulle die ou mense jammer gekry of dalk het hulle engele gesien. Die feit bly staan, hulle het ons nie een keer seergemaak nie. Selfs toe hulle ons vasgebind het met kabelbinders, het hulle dit lossies gedoen,” voeg Desmond by.

Hendrien het daarin geslaag om haar hande los te wikkel en kon haar man en kleindogter, wie se hande én voete vasgebind was, losmaak. Kaelee het haar pa, wat ‘n paramedikus by Netcare 911 is, gebel en hy het onmiddellik nog hulp ontbied.

Volgens die egpaar was dit ‘n kwessie van minute toe was Bossies Community Justice, Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, Nelspruit Concerned Citizens sowel as die polisie op die toneel.

“Jy weet, op daardie stadium gaan daar niks deur jou kop nie. Alles is chaos. Al wat jy sien is ‘n figuur en ‘n wapen,” het hy geskok gesê.

Die egpaar woon al 21 jaar op die plot, maar het Maandag aan Laevelder gesê dat hul wel beoog om binnekort na hul seun in Sabie te verhuis. “Ons glo dit is vir die beter, maar as jou strepie getrek is, is hy getrek. Hulle is en bly maar altyd ‘n stappie voor. Ons was net gelukkig en ek kan net sê ‘amazing grace’,” sê Desmond, sy oë vol trane van dankbaarheid.

Hulle het egter wel ‘n beroep op inwoners gedoen om indien hulle ooit hulself in ‘n soortgelyke situasie bevind, so kalm moontlik moet probeer bly. Die egpaar is oortuig dat die uitkoms heel waarskynlik anders sou wees indien hulle nie so rustig gebly het nie. Hulle het ook gevra dat mense te alle tye ‘n ekstra selfoon iewers in hul huis moet bêre en ook ‘n noodnommer moet memoriseer.

Die familie bedank graag al die betrokkenes vir hul ondersteuning, flink optrede en bystand.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button