Editor's choiceHard newsLocal newsNewsNews

Straatbrak-probleem word erger

Die viervoetige diere word raakgery en mishandel terwyl niemand aanspreeklikheid wil neem nie

BURGERSFORT – Straathonde in die middedorp is besig om ‘n groot probleem vir die gemeenskap te word. Die viervoetige diere word raakgery en mishandel terwyl niemand aanspreeklikheid wil neem nie.

Die afgelope paar maande het talle voorvalle onder Steelburger/Lydenburg Nuus se aandag gekom. In Maart het die eerste voorval plaasgevind toe ‘n hond in Maronestraat raakgery is. Mnr. Simon Mathabatha het op die beseerde hond afgekom en die koerant geskakel. Thaba Phala Dierekliniek het die troeteldier behandel en ‘n inwoner, me. Susan Pretorius het die mediese kostes gedra.

Daarna is ‘n hond doodgery en langs Dirk Winterbachstraat gelaat. Sy karkas het vanaf 27 tot 29 Junie daar gelê voordat dit verwyder is.

Dinsdagmiddag is ‘n hond met ‘n draad om sy nek in Maronestraat gevind. Weereens het Thaba Phala Dierekliniek tot die hond se redding gekom en hom behandel. “Die hond se vleis het al oor die stuk draad begin toegroei. Ek het die knoop van die draad losgemaak en dit verwyder. Die wond was nie septies nie en geen belangrike weefsel is beskadig nie. Ons kon die wond skoonmaak en behandel,” vertel dr. Charlene Klopper.

“As die gemeenskap bewus is van enige dieremishandeling moet dit by die Departement van Landou in Praktiseer aangemeld word. Die munisipaliteit is bewus van die straatdiere in die gemeenskap. Ons is tans nog besig met samesprekings om ‘n diereskuiling op te rig waar die diere aangehou en versorg kan word,” verduidelik mnr. Thabiso Mokoena, woordvoerder van Groter Tubatse Munisipaliteit.

Thaba Phala Dierekliniek versoek ook die inwoners om die Departement van Landbou by 013-216-1093 te skakel om voorvalle van straatdiere aan te meld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button