Editor's choiceHard newsLocal newsNewsNews

Gru-ongeluk eis twee lewens

Die oorsaak van die botsing is onbekend, maar volgens die polisieverslag word 'n saak van strafbare manslag ondersoek

BURGERSFORT – Twee plaaslike inwoners is Vrydagaand op slag in ‘n kop-aan-kop-botsing dood. Die ongeluk het rondom 19:30 by die Steelpoort T-aansluiting op die R37 plaasgevind.

Me. Zandalee Lessing, ‘n werknemer van Valencia Country Lodge en mnr. Elias Nkosi, werknemer van Ngululu Bulk Carriers is albei oorlede toe hul voertuie kop aan kop gebots het.

Volgens me. Barbara Lessing was Zandalee op pad om ys te gaan haal in Burgersfort toe die ongeluk gebeur het. “Ons wou eers nie dat sy ry nie en het gevra of ons liewer kan gaan, maar sy is hier weg met ons bakkie, min het ons geweet dit sou die laaste keer wees wat ons haar sou sien,” vertel Barbara.

Zandalee en Elias was albei alleen in die voertuie tydens die ongeluk en Elias het ‘n Mercedez-Benz bestuur. Die wrakke staan by die plaaslike polisiestasie. Die oorsaak van die botsing is onbekend, maar volgens die polisieverslag word ‘n saak van strafbare manslag ondersoek, “Elias was ‘n baie goeie werknemer, ons gaan hom baie mis. Sterkte aan sy familie wat hy agterlaat,” vertel mnr. Lebo Yaka, ook ‘n Ngululu Bulk Carriers-werknemer.

Zandalee is op 30 Mei 1993 gebore en het haar kinderjare in Standerton deurgebring. In Oktober 2014 het sy na Burgersfort verhuis waar sy by die Valencia Country Lodge-span aangesluit het. Sy was die enigste dogter van Piet en Barbara Lessing.

“Haar skoonheid was innerlik en uiterlik. Sy was ‘n vriendelike, spontane, vrolike en uitgaande persoon wat altyd omgegee het vir ander. Ons kan werklik sê dat Zandalee die lewe ten volle geniet het,” vertel haar hartseer ouers.

Zandalee laat haar ouers, Piet en Barbara asook haar stiefsuster, Chrystal Katzke agter. Haar gedenkdiens vind vandag (17 Julie) om 12:00 vanuit die NG Kerk-Suid in Lydenburg plaas.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button