Dogter volg trots in pa se voetspore
As jong meisie het ek altyd my pa na wedstryde vergesel waar hy moes blaas en dit het my meer aangespoor om 'n skeidregter te word
LYDENBURG – Reeds op ‘n vroeë ouderdom het Gene-Marie Kleyn geweet sy wil in haar pa, Gerhard Kleyn se skeidsregtervoetspore volg.
“Ek is die enigste kind en as gevolg van my pa se beroep het rugby altyd ‘n groot rol in ons huis gespeel. Ek was 15 jaar oud toe ek besluit het om ‘n skeidsregter te word. As jong meisie het ek altyd my pa na wedstryde vergesel waar hy moes blaas en dit het my meer aangespoor om ‘n skeidregter te word. My pa doen dit al 23 jaar,” vertel Gene-Marie.
Sy het op 15-jarige ouderdom by die Pumas-skeidsregtersunie aangesluit. Terwyl sy besig was om haar kursusse te voltooi was sy drie keer in tuiswedstryde van die Pumas die hulpblaser. Sy vertel dat die kursusse baie uitgebreid is, dit sluit eksamens en fiksheidstoetse in.
Nou het sy al haar kursusse voltooi en is ‘n gekwalifiseerde skeidsregter. Vandat sy gekwalifiseer het, het sy in Maart twee o/14-wedstryde tydens die Danie Rossouw Rugbyweek in Witrivier self hanteer en het sy Saterdag saam met haar pa die semifinale wedstryd tussen Ohrigstad en Hazyview help blaas.
Sy erken dat mense dit soms vreemd vind dat ‘n meisie ‘n rugbyskeidsregter is, maar sy het al geleer om sterk en vol selfvertroue te bly.
Sy meen sy is net so goed soos enige manlike skeidsregter. “Ek sal graag eendag selfs nasionale wedstryde wil blaas,” voeg sy by. Gene-Marie is in matriek by Lydenburg Hoërskool en wil volgende jaar vir ‘n landmeter studeer.
Sy vertel dat sy ‘n veel sagter kant het en dat sy nie net deur haar skeidsregterskap geïdentifiseer wil word nie. “Ek dans al vandat ek vier jaar oud is en doen ballet, hiphop, klop- en moderne danse. Ek is ook die trotse eienaar van vyf perde en perdry is een vanmy stokperdjies.”
