Man uiteindelik met ‘gesteelde kat’ herenig
"My voormalige bure het gesê hulle het gesien hoe die nuwe inwoners die kat met kos tot in die motorhuis gelok het. Hulle het toe glo die eiendomsagente - wat geweet het dat dit my kat is, want hulle ken vir Merlin - gebel om die kat te kom haal."
MBOMBELA – ‘n Oud-Laevelder is op die oorlogspad nadat ‘n eiendomsagent glo sy lieflingkat gesteel het. Woensdagoggend, ná twee weke se gesoek en gesukkel, is dié kat en eienaar uiteindelik herenig.
Mnr. Marius Strauss, ‘n voormalige inwoner van Witrivier, gaan die eiendomsagente van sy sekuriteitslandgoed in Centurion dagvaar nadat hy sy kat by ‘n dierereddingsorganisasie in Johannesburg moes gaan haal. Hy beskuldig die agent daarvan dat dié sy kat gesteel het.
“Ek het van een huis op die landgoed na ‘n ander op dieselfde landgoed getrek, maar my Ragdoll-kat, Merlin, het gereeld by die ou huis, en vir ons ou bure, gaan kuier,” vertel Strauss.
“My ou bure het my gewaarsku dat die nuwe inwoners van my voormalige huis glo vir Merlin bang is. Ek kon egter nie keer as die kat wou rondloop nie en hy het gereeld daarheen gegaan.”

Op 10 Julie het die vyf jaar oue Merlin net nie huis toe gekom nie en Strauss het ondersoek ingestel. “My voormalige bure het gesê hulle het gesien hoe die nuwe inwoners die kat met kos tot in die motorhuis gelok het. Hulle het toe glo die eiendomsagente – wat geweet het dat dit my kat is, want hulle ken vir Merlin – gebel om die kat te kom haal.”
Toe Strauss die agentskap skakel, het hulle geweier om met hom te praat en hom na hulle prokureurs verwys. Hulle het wel bevestig dat hulle die kat na ‘n reddingsorganisasie gevat het, maar wou nie eens verklap watter een nie. Ná dae se gesukkel het die agentskap uiteindelik gesê waar Merlin was. “Toe ek die organisasie se eienares bel, het sy gesê sy is landuit en kon dus nie help nie.”
My ou bure het my gewaarsku dat die nuwe inwoners van my voormalige huis glo vir Merlin bang is. Ek kon egter nie keer as die kat wou rondloop nie en hy het gereeld daarheen gegaan.
Dít was toe dat Strauss sy dilemma op sosiale netwerke verkondig het. “Ek het hoog en laag inskrywings op elke reddingsorganisasie se blad gemaak en mense van regoor die land het ingespan om my te help om my kat te vind.” Die boodskap moes klaarblyklik onder Merlin se nuwe eienaars se aandag gekom het, want ‘n paar dae later het Strauss die goeie nuus ontvang dat sy lieflingkat terug by die reddingsorganisasie is.

“Merlin se nuwe eienaars wou nie direk betrokke raak nie en het hom net terug geneem sodat ek hom kon gaan haal,” Volgens Strauss het die agentskap gesê die kat se eienaar het hom net so gelos toe hy getrek het.
Allermins was Merlin Woensdagoggend vir die eerste keer in twee weke, weer by die huis. “Hy is nog effens verbouereerd, maar ek kan sien hy is baie bly om terug te wees.” Strauss hou vol hy gaan die agentskap dagvaar. “Hulle moenie dink hulle gaan hiermee wegkom nie.”
Lees meer katkaskenades hier:
Die kat kom (en gaan) weer, botterpootjies en al
Kat stap meer as 20 km terug huis toe
