Community galleriesGalleriesLocal newsNewsNews

Gewilde dokter hang sy stetoskoop op

Toe dr. Edgard Franck, sy vrou Marita en hul vyf kinders Nelspruit toe trek, was sy spreekkamers by die Frieso-kompleks in Murraystraat. Dit is waar die meeste inwoners hom leer ken het.

MBOMBELA – “My pasiënte het my familie geword. Dit gaan die moeilikste wees om hulle te groet.”

Min wetende het dr. Edgard Franck (69) nét soveel ‘n deel van sy pasiënte se families geword. En nou, ná 31 jaar as geliefde algemene praktisyn (AP) in die stad, moet hy sy stetoskoop ophang.

Die saggesproke dokter loer met ‘n glimlag bo-oor sy bril en plaas sy vingers teen mekaar om ‘n driehoek op sy lessenaar te vorm terwyl hy terugdink aan die jare in geneeskunde.

Ek het altyd geweet ek wou met mense werk. Om ‘n verskil in iemand se lewe te maak – of dit fisies of emosioneel is – bly maar die hoogtepunt van my loopbaan. Dit is vir my baie swaar om van my ‘familie’ weg te gaan…

Die trane in sy oë keer dat hy verder kan praat, en dan glimlag hy net.

Franck is al vir 45 jaar in die mediese bedryf. Nadat hy sy graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi het, was hy vir drie jaar ‘n mediese beampte in Pietersburg. Daarna het hy vir 10 jaar op Naboomspruit gepraktiseer. “Ek was die dokter, veearts en tandetrekker op die dorp. Ja, ek het baie sterte aangewerk, want daar was niemand anders om dit te doen nie.”

Toe hy, sy vrou Marita en hul vyf kinders Nelspruit toe trek, was sy spreekkamers by die Frieso-kompleks in Murraystraat. Dit is waar die meeste inwoners hom leer ken het.

Op ‘n tyd wou hy selfs in plastiese snykunde spesialiseer, maar die jare van laat aande werk het sy tol geëis en veroorsaak dat sy regteroog verswak het. Hy kon dus nie die fyn snywerk doen nie.

Dit was eintlik ‘n bedekte seën. My werk het toe meer familie-georiënteerd geraak in plaas van area-spesifiek. AP’s het ‘n bietjie kennis in baie areas, in plaas van baie kennis in ‘n gekonsentreerde gebied.

Juis hierdie fasset van die mediese bedryf, glo hy, sterf uit. “Jong dokters gaan spesialiseer. Hulle is nie gelukkig om net AP’s te wees nie. Die gemiddelde ouderdom van AP’s is 55. Dit is ‘n probleem.”

Gevra hoe die bedryf verander het sedert hy begin praktiseer het, antwoord hy dat hy die feit dat mediesefondse dokters se voorskrifte beheer, verwyt. “Dis sleg dat ons dokters nie altyd die medikasie wat ons wil, kan voorskryf nie omdat die mediesefondse nie daarvoor betaal nie. Dan kry ons nie altyd die gewenste resultate nie. Dit is ook as gevolg van mediesefondse dat mense na staatshospitale verwys word.

Staatshospitale was nie altyd ‘n doodsvonnis nie, maar deesdae wil mense nie daar opgeneem word nie.

Franck en sy vrou verhuis aan die einde van September na Cannon Rocks, naby Port Elizabeth in die Oos-Kaap. “Ek gaan nog lokumwerk doen, maar ek wil hout-en beeldhouwerk doen – iets waaroor ek nog nooit tyd gehad het nie.

“My vrou is ‘n kunstenaar, so sy kan my met laasgenoemde help. Sy wou nog altyd ‘n bad met ‘n uitsig oor die see hê, en nou gaan sy dit kry.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button