LYDENBURG – Die hoogste bierbrouery in Afrika is reg op die dorp se voorstoep en het groot planne vir die toekoms.
Hops Hollow is ongeveer 23 kilometer buite die dorp op die Longtompas en het sy ontstaan in 2001 gehad met Theo de Beer wat die brouery begin het. In 2008 het Willie en Magdaleen Botha Hops Hollow oorgeneem en sedertdien is daar groot opgewondenheid oor die ontwikkelinge by dié brouery en gastehuis.
“Wat Hops Hollow so gewild maak, is beslis die gasvryheid van die personeel. Jy gaan ‘n heeltemal ander ervaring hier kry. Dis nie soos by ‘n ander gastehuis waar jy inboek, gaan slaap en niemand weer sien nie. Ons kuier saam met die gaste.”
Al vyf boetiekbiervariante van Hops Hollow word self op die perseel gebrou. Ale of ligte bier soos dit in Afrikaans bekend staan, word van moutgort met behulp van ‘n warm fermentasieproses en ‘n stam van brouersgis gebrou. In vergelyking met lager-gis, fermenteer aalgis vinniger, en dikwels produseer dit ‘n soeter, voller en vrugtige smaak. Die meeste bier bevat hops, wat help om die bier te bewaar en verleen ‘n bitter of kruiegeur wat die soetheid van die beslag balanseer.
Hops Hollow se vyf ligte biere is die Diggers Draft – ‘n ligte kleur Duitse bier, Blacksmith’s brew – ‘n wit Belgiese bier, Mac’s Porter – ‘n effense donker bier, Old Bull Bitter – ‘n Britse bier en Tappers Brew – ‘n Boheemse lager.
Behalwe vir hulle eie boetiekbier, verkoop hulle ook bykans al die kommersiële biere. “Die silwerskoon bergwater is beslis die belangrikse bestanddeel in ons biere. Dit is ook die ideale whiskey-water,” verduidelik Botha.
Maar wat is ‘n tuisgemaakte bier sonder ‘n lekker ete? Ou gunstelinge van Hops Hollow sluit hul lipleklekker T-been en skyfies, kruisskyf met sampioensous, kaas, spek en skyfies en tamaai tuisgemaakte biefburgers in.
“As jy oorslaap en jy is ‘n spesiale gas, maak ek vir jou warm bier. Dit is amper soos jou Glühwein, maar in dié geval ‘n bierwyn!” sê Botha.
Hops Hollow beskik tans oor twee en suite-kamers op grondvlak, twee op die eerste verdieping en verskeie kamers vir rugsaktoeriste.
Die intieme gastehuis kan
15 mense gerieflik akkommodeer. “Dit is deur en deur ‘n familieplek. Dit is nie ‘n skubberige plek nie. As familie nie hierheen kan kom nie, dan doen ek iets verkeerd. Dis vir my baie belangrik dat iemand sy vrou en kinders hierheen kan en wil bring.”
Daar is selfs ‘n kindertafeltjie met ‘n inkleurhoekie en ‘n klimraam waar kinders hul tyd kan verwyl terwyl ma en pa ‘n rustige tydjie saam geniet. Daar gaan ook eersdaags ‘n troeteldierkamp met plaasdiere vir die kinders geskep word.
Benewens dit, gaan Hops Hollow ook begin om plaaslike kunstenaars ‘n verhoog te gee vir optredes.
Op Saterdag 8 Augustus om 15:00 hou Hops Hollow ‘n braaifees-buffet waar jy soveel braaivleis kan eet soos jy wil teen R220 per persoon. Dit sluit alle bykosse in. Drank sal op die perseel verkoop word. Vir meer inligting en besprekings, skakel Hops Hollow by 084-381-4552 of 013-235-8910.
