CrimeHard newsNewsNews

Bossies loof beloning uit na aanval op ekonoom

Die misdaadbekampings-organisasie bied tot R50 000 aan vir inligting oor die aanval.

MBOMBELA – Bossies Community Justice (BCJ) bekamp nie net misdaad in die Laeveld nie, maar het hom ook nou geskaar by die stryd om dit landswyd te probeer hokslaan.

Dié organisasie het Vrydag ‘n beloning uitgeloof vir inligting oor die aanval Donderdagaand op die bekende ekonoom mnr. Dawie Roodt. Roodt was toevallig twee weke gelede hier die gasspreker by ‘n Efficient Group-geleentheid.

Hy is in die hoësorgeenheid van ‘n hospitaal in Pretoria opgeneem nadat hy en sy gesin in hul huis in Pretoria-Oos aangeval en beroof is. Roodt het verskeie steekwonde aan sy kop and arm opgedoen.

Stigterslid van BCJ, mnr. Rupert Taljaard sê hy ken Roodt glad nie persoonlik nie.

“Ek ken hom glad nie. Ek hoor hom net gereeld op die radio praat. Dan dink ek elke keer, wat ‘n aangename ou. Ons help graag mense wat in die omgewing woon, maar ons wil oral probeer help. Ons sal hom ook ondersteun waar ons kan. Dit was ‘n verskriklike aanval.”

Taljaard voeg by dat misdaadbekampers dadelik moet reageer om die beste kans te staan om waardevolle inligting in te win na ‘n aanval.

“Ons wil graag ‘n voorbeeld wees vir ander. Dis belangrik om vir mense te wys dat as ons ‘n bietjie saamstaan kan ons dinge keer of dit ten minste moeiliker maak om misdade te pleeg.”

Hy sê dit gaan tans goed met BCJ, so hulle beskik oor die vermoë om die beloning uit te loof. Hulle doen dit gereeld om inligting oor misdaad in en om Mbombela te kry.

Mnr. Jacques Meiring, operasionele bestuurder van BCJ, sê die beloning is tot en met R50 000 vir inligting wat tot die arrestasie en suksesvolle vervolging van die verdagtes sal lei. Kontak BCJ met enige inligting by 082-567-5212.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button