CrimeNews

Matriek beseer in ongeluk ná afskeid

Sy moes die aand na die matriekafskeid huis toe gekom het. Ons weet nie by watter partytjie hulle was nie

MBOMBELA – ‘n Leerling van Hoërskool Bergvlam is ernstig beseer in ‘n ongeluk na haar matriekafskeid Saterdagaand. Die bestuurder van die voertuig waarin sy was, het haar na bewering net so op die toneel gelos en weggejaag.

Die ongeluk het Sondagoggend omstreeks 05:00 plaasgevind, vermoedelik na die sogenaamde after party wat gewoonlik met matriekafskeide gepaardgaan.

Michaela Harmse (17) was Sondagaand reeds uit die hospitaal ontslaan, maar is gister teen druktyd weer in Rob Ferreira Hospitaal opgeneem omdat sy glo rekonstruktiewe chirurgie aan haar gesig moes ondergaan.

Volgens ‘n reddingswerker wat op die toneel was, wat weens die sensitiwiteit van die saak eerder anoniem wou bly, het die ongeluk op die hoek van Aurora- en Shuttlestrate in Steiltes plaasgevind.

Lees ook: Vrou wat ongeluk in Ferreirastraat aanskou deel haar ervaring

“Die bestuurder het met ‘n Volkswagen Golf ‘n lamppaal en toe ‘n klein palmboom getref. Die meisie (Micaela) is deur die voorruit geslinger.” Die bestuurder het glo weggejaag en ambulansdienste is ontbied.

Mnr. Izak Harmse, Michaela se pa, het by navraag gesê dat die inwoners van die huis op die hoek uitgekom en Michaela gehelp het. “Dis toé dat die bestuurder net weggery het,” het hy gesê. Hy is nie aan haar pa bekend nie. Hy weet ook nie waarvandaan hy en sy dogter gekom het. “Sy moes die aand na die matriekafskeid huis toe gekom het. Ons weet nie by watter partytjie hulle was nie.”

‘n Ander bron wat op die toneel was, het vertel dat Michaela self na die huis gestap het en na bewering vir die bestuurder gesê het dat hy maar kon ry. Mnr. Jacques Ainslie van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit se mediese dienste, het gesê dat sy in ‘n stabiele toestand na Mediclinic Nelspruit geneem is. “Sy was duidelik in skok, maar dit het op die toneel geblyk dat sy bloot ‘n tand en haar neus gebreek het.” Die windskerm van die Volkswagen het op die toneel agtergebly en die voertuig se registrasienommer is só vasgestel.

Lees ook: Engela Barnard-opvolg: boetie ook jare gelede in ongeluk dood

“Die bestuurder se pa is gekontak en meegedeel dat sy seun in ‘n ongeluk betrokke was en die toneel na bewering net verlaat het,” het die bron bygevoeg.

Harmse het gesê dat die bestuurder 21 jaar oud is en nog glad nie met hulle kontak gemaak het nie.

Die bestuurder se ma het egter met Laevelder kontak gemaak. Sy besonderhede word weerhou omdat hy nog nie van ‘n misdryf aangekla is nie.

“Michaela het hom meer as een keer verseker dat sy oraait was en my seun het aan haar gesê dat hy my sou kom haal,” het die ma vertel.

Hy het kort hierna by haar huis, wat ook in Steiltes is, aangekom en haar wakker gemaak. Sy pa is ook intussen geskakel en hulle is kort hierna saam na die toneel. “Daar was niemand anders saam met hulle in die voertuig nie. Hulle het sowat 90 minute lank saam met beamptes van Hi-Tech op die toneel vir die polisie gewag om op te daag, maar dit was vergeefs,” het die vrou vertel.

Hy het die ongeluk gisteroggend by die polisie gaan aanmeld. “Ons het reeds Sondag met Michaela en haar ma gepraat en verskoning gevra vir die voorval,” het die ma bygevoeg.

Harmse het bygevoeg dat Michaela in Rob Ferreira Hospitaal opgeneem sou word omdat die gesin nie ‘n mediesefonds het nie. “Sy verduur baie pyn en ontvang sterk pynmedikasie. Sy kon nog nie regtig met ons praat en vertel wat gebeur het nie.”

X-straal foto's van Michaela Harmse se beserings.
X-straal foto’s van Michaela Harmse se beserings.

Volgens kapt. Dawie Pretorius, woordvoerder van die polisie, word ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button