CrimeHard newsLocal newsNewsNewsUpdate

Wedderspoon-saga nog lank nie verby

"Die saak teen Wedderspoon is nie meer hangend nie, maar kan enige tyd weer heropen word," - kapt. Dawie Pretorius.

MBOMBELA – Die veroordeelde dief, Elaine Wedderspoon, is sedert voorverlede Donderdag tuis na drie weke en twee nagte in die stad se selle. Sy kom voorlopig skotvry van beweerde diefstal af, omdat die ondersoekbeampte versuim het om die dossier aan die hof te besorg sodat die saak teen haar kon voortgaan.

Dié polisieman se versuim word nou dissiplinêr ondersoek. Laevelder het vroeër berig dat Wedderspoon glo me. Hanli Vos se kragopwekker gesteel het. Vos het Woensdag die onsmaaklikheid aan Laevelder verduidelik. “Dit het alles begin toe Elaine ons kragopwekker wou leen. Dit is R12 000 werd, maar ons het dit vir haar geleen. Toe ons dit wou terughê, het die probleme egter begin.”

Sy het die een rede na die ander voorgehou waarom sy dit nie kon teruggee nie. Sy het glo eers gesê dat die masjien in was vir herstelwerk en dat hulle nie die rekening kon betaal nie. Toe die Vosse vir Wedderspoon ingelig het dat hulle ‘n diefstalsaak oopgemaak het, het sy glo haar voet neergesit: “Julle kry die generator eers sodra die saak wat julle teen my oopgemaak het, afgehandel is.” Wedderspoon het die Vosse gewaarsku dat sy ‘n advokaat sou aanstel en dat dié besit sou neem van die kragopwekker tot die saak voltrek is.

Dit het in November 2014 begin en die twee vroue het probeer skik. Hulle pogings was onsuksesvol en dit is uitgestel. “Die landdros het die saak met Elaine se volgende verskyning tot 14:00 laat afstaan, omdat sy gesê het dat sy geld vir die skikkingsbedrag wou gaan trek in Malalane. Toe ons hervat het, was sy nie daar nie. Sy is meer as drie keer geroep. Die landdros het ‘n lasbrief vir haar arres uitgereik. Daarna het niemand my weer gekontak nie.”

Wedderspoon is op 21 Junie gearresteer nadat die polisie vir twee maande lank gesukkel het om haar vas te trek. Sy het ‘n paar keer vlugtig in die hof verskyn voor die saak teen haar verlede Donderdag van die rol geskrap is.

Sy het Laevelder se hofverslaggewer via Facebook van dié verwikkeling ingelig.

"Veilig tuis," het Elaine Wedderspoon laat weet.
“Veilig tuis,” het Elaine Wedderspoon laat weet.

Me. Elmarie Meiring, wat in 2014 die klaer namens Topaz Office Solutions in ‘n diefstalsaak teen Wedderspoon was, het Laevelder intussen geskakel.
“Elaine het steeds nie die betalings gemaak soos die Witrivier Strafhof se bevel dit vereis het nie.” Sy is ook in 2014 aan bedrog skuldig bevind nadat duisende rande by Teraoka Suid-Afrika se Witrivier-tak verdwyn het. Sy is vir hierdie twee misdrywe ‘n sewe jaar opgeskorte vonnis opgelê, mits sy haarself nie weer aan ‘n soortgelyke misdryf skuldig maak nie.
Mnr. Vincent Myburgh, Meiring se man, het die koerant ook geskakel. “As sy skuldig bevind word aan die diefstal van Vos se kragopwekker, sal die sewe jaar vonnis in werking tree,” het hy genoem.

“Die saak teen Wedderspoon is nie meer hangend nie, maar kan enige tyd weer heropen word,” het kapt. Dawie Pretorius, woordvoerder van die plaaslike polisie, by navraag gesê.  Hy het benadruk dat die saak teen haar teruggetrek is en nie van die rol geskrap is nie.

Vos hou voet by stuk dat sy wil hê dat Wedderspoon vervolg moet word. Pretorius het bevestig dat die ondersoekbeampte wat versuim het om die dossier tydig na die hof toe te neem, dissiplinêr verantwoordelik gehou sal word.  “Die polisie beskou die situasie in ‘n ernstige lig,” het hy gesê. Laevelder het hofrekords geraadpleeg en bevestig dat hierdie polisielid ‘n sekere  =konst. Sibande is.

Alhoewel Vos in vergifnis glo, glo sy ook dat ‘n mens sekere beginsels moet handhaaf, soos die teruggee van geleende goed.  “Reg en verkeerd moet darem ook geld,” het sy gesê. Wat vergifnis betref, het Wedderspoon nog ‘n skrywe aan die koerant se hofverslaggewer gerig. “My God is groot en as Hy my kan vergewe, waarom moet ek dit (hofverslaggewing in die Wedderspoon-saga) teen jou hou?” het sy geskryf. Talle gemeenskaps-lede het hulle menings op Facebook gelug. Me. Elmarie du Toit se kommentaar weerspieël sommiges se sentiment: “Thou shall not steal or take what is not yours,” het sy op die Nelspruiters-groep laat hoor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button