CrimeHard newsNewsNews

Skêrsaak: uitspraak word sewe jaar later verwag

Kan Francois Steynberg aanspreeklik gehou word vir die beweerde poging tot moord op 'n sewejarige?

MBOMBELA – Die ma van ‘n gr.8-dogter grawe haar selfoon uit haar handsak uit. “Kyk hoe mooi lyk sy!” sê sy trots. ‘n Foto van ‘n beeldskone donkerkop in ‘n sjef-uitrusting pryk op die selfoon se skerm. Daar is léwe in haar oë.

Die dogter op die foto het sewe jaar gelede by die dood omgedraai nadat sy op 6 Desember 2008 na ‘n plaaslike hospitaal se ongevalle gehaas is. Haar keel was met ‘n skêr oopgekloof tot só ‘n mate dat haar tragea sigbaar was. Die man wat dit na bewering gedoen het was op daardie stadium glo nie bewus van wat om hom aangaan nie en het die volgende oggend in die stad se polisieselle sy bewussyn herwin. Dit was die begin van die strafsaak teen mnr. Francois Stynberg.

“Kan jy glo dis al sewe jaar later?” het die slagoffer se ma vanuit die galery gevra voordat die saak verlede week in die Nelspruit Streekshof hervat is. “My dogtertjie was maar sewe jaar oud toe sy aangeval is. Sy is nou twee keer so oud en ‘n baie sterk mensie van 14. Sy is werklik iemand om op trots te wees.”

Steynberg, wat op borg vrygelaat is, het sy plek in die beskuldigdebank om 11:00 ingeneem en die vervolging en verdediging se hoofde van betoog is beide aan die landdros, mnr. Kgamu Shai, oorhandig. Hierdie dokumente vervat die kruks van beide die staat en verdediging se argumente wat oor die laaste sewe jaar aangevoer is.

Laevelder berig al sedert die aanvang van die saak daaroor. Steynberg staan tereg op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en poging tot moord. Hy is aanvanklik aangekla van verkragting, maar dié klag is later laat vaar.

‘n Totaal van nege getuies het oor die jare getuig – ses vir die staat se saak en drie vir dié van die verdediging. Me. Magdalena Steynberg, die beskuldigde se skoonsuster, het haar weergawe aan die hof voorgehou van hoe alles gebeur het. Steynberg het by haar en sy broer tuisgegaan. Op daardie selfde aand, het ‘n sewejarige maatjie by haar eie dogter kom oornag. Steynberg en sy broer het tussen 17:00 en 17:30 begin whiskey drink.

Magdalena se man het vroeër as Steynberg gaan slaap en laasgenoemde het nog gedrink en dagga gerook. Magdalena het haar dogtertjie en dié se maatjie (7) om 22:00 in die bed gesit en op haar bed gaan sit en kaart gespeel op die rekenaar.

Dit was omtrent 23:30 toe sy ‘n asem in haar nek voel blaas het. Steynberg het, aldus Magdalena se getuienis, agter haar gestaan en haar met ‘n skêr in die bors gesteek toe sy omdraai, waarna hy om verskoning gevra het. Sy het hom weggestoot en haar man gaan wakker maak. Hy het vreeslik gesukkel om Steynberg te kalmeer en het hom oortuig om ‘n koue stort te neem. Sy stelling aan sy broer (haar man) het haar opgeval: “Ek gaan vir my en jou na ons pa toe vat,” het hy gesê. Hulle pa was toe reeds jare lank dood.

Toe Steynberg terug is na sy kamer, het Magdalena opgemerk dat die dogtertjie (7) nie in haar slaapsak was nie en dat Steynberg se slaapsak voor sy kamerdeur gelê het. Sy het sy kamerdeur oopgestoot. Volgens haar getuienis het Steynberg kaal voor sy bed gestaan – hy het na sy koue stort nie weer klere aangetrek nie. Die sewejarige slagoffer het op sy bed gelê. Die slagoffer het in die hof getuig hoe sy op Steynberg se bed beland het – sy het wakker geword toe hy haar op sy bed neergegooi het.

“Hy het vir my gesê as ek gaan skreeu dan gaan hy my in stukkies sny,” het sy getuig. Hy het haar kop teen die muur gestamp en haar op die oog geslaan, waarna sy geskreeu het. Volgens die slagoffer het hy haar daarna met ‘n skêr gesny. Magdalena het net hierna op die toneel afgekom. Daar was ‘n sny dwarsoor die dogtertjie se keel en bloed op die vloer en op die bed. Magdalena het Steynberg se naam uitgeroep en hy het haar bestorm, maar sy het weggehardloop. Die dogtertjie se nek is met ‘n handdoek verbind en sy is na Rob Ferreira Hospitaal se ongevalle gehaas, waar dr. EE Lopez haar ondersoek het.

Lopez het getuig oor sy bevindinge, soos vervat in ‘n J88-vorm. Die sny dwarsoor haar nek was tussen 12 en 14 sentimeter lank. Bloeding was sigbaar in haar linkeroog en haar linkeroor was effens blou. Die beskuldigde se regspan het hieroor gesê dat die klag van poging tot moord op die sewejarige nie behoort te slaag nie, omdat Lopez getuig het dat die snywond vlak was. Hy het ook getuig dat geen spiere raakgesny is nie – slegs vel en vetweefsel. Francois se prokureur, mnr. Coert Jordaan en advokaat, mnr. Pottie Potgieter, het aangevoer dat hy nie ‘n gevaarlike wapen in die vermeende aanval gebruik het nie en het beklemtoon dat die staat die skêr waarmee die slagoffer na bewering aangeval is, nie as bewysstuk ingehandig het nie. Die verdedigingspan het ook gesê dat hulle meen dat ‘n voorwerp wat slegs die vel kan penetreer – soos ‘n skêr, nie die dood kan veroorsaak nie.

Mnr. Wynand de Bruin was ‘n kollega van die beskuldigde wat die perseel waar die gebeure na bewering plaasgevind het twee keer daardie aand besoek het. Hy was voor 00:00 daar en het om 03:00 teruggekeer. Hy het getuig dat die beskuldigde hom met sy tweede besoek gegroet het en dadelik gesê het dat hy jammer was en dat hy “k** aangejaag het.” Nog een van Francois se kollegas, mnr. Shaun Naudé, het getuig dat hy Francois gearresteer het.

Steynberg het ure later in die Nelspruit polisieselle sy bewussyn herwin. Hy weet glo tot vandag toe nie wat daardie aand gebeur het nie en opper twee verwere. Hy sê dat hy geen opset gehad het om Magdelana of die sewejarige slagoffer aan te rand of te probeer vermoor nie. Hy sê ook dat hy op daardie oomblik nie-patologies ontoerekeningsvatbaar was. Dit beteken dat hy tydelik nie tussen reg en verkeerd kon onderskei of dienooreenkomstig daardie besef kon optree nie.

Steynberg het deur die loop van die verhoor vier faktore geopper wat aanleiding gegee het tot hierdie beweerde tydelike toestand.

  1. Rekenaarspeletjies soos Just Cause, Duce Ex en Grandia het hom beïnvloed

De Bruin het getuig dat Steynberg gesê het dat ‘n rekenaarspeletjie met sy kop gesmokkel het. “Hy het gesê dat hy besig was met ‘n rekenaarspeletjie en dat die speletjie hom opdrag gee om mense te vermoor,” het hy getuig. Steynberg het egter ook bevestig dat hierdie selfde rekenaarspeletjies nie skadelik is vir klein kindertjies nie en dat hy dit intussen vir sy 13-jarige broerskind gegee het. Senior staatsadvokaat Isabet Erwee het op rekord geplaas dat hierdie speletjies dus nie ontoerekeningsvatbaarheid tot gevolg kon hê nie.

  1. Hy het alkohol gebruik en dagga gerook die aand van die beweerde voorval

Die beskuldigde het glo al sedert sy hoërskooldae dagga en alkohol gebruik en dan skielik sy bewussyn verloor. Wanneer hy wakker word, was dit vir hom duidelik dat iets vreemds gebeur het. Hy het in 2014 ‘n paar voorvalle waar alkohol en dwelms betrokke was, as voorbeelde voorgehou: Sy broer het hom een keer kom haal waar hy besig was om ‘n meisie die hof te maak by ‘n partytjie. Hy het nie goed op hierdie onderbreking gereageer nie – ‘n floute het hom getref en hy het die volgende oggend in die hospitaal wakker geword met steke aan sy arm en pols.

Hy het glo een aand alleen tuis gedrink en dagga gerook. Sy familielede kon hom nie in die hande kry nie en het op hom afgekom waar hy bewusteloos in sy woonstel gelê het. Hy het sy woonstel eiehandig verwoes. Talle artikels was gebreek. Steynberg kan, volgens die getuienis van sielkundige me. Susanna Myburgh, glo niks van hierdie voorvalle onthou nie, net soos wat hy nie die gebeure van 6 Desember nie kan onthou nie.

Myburgh wou die omstandighede waaronder die beweerde misdryf gepleeg is namaak en het saam met Steynberg op 16 September 2014 by die M-Care Macadamia se psigiatriese eenheid aangemeld vir ‘n oornag-eksperiment. Sy het vir hom 750ml whiskey gegee en in die hof getuig oor sy reaksie op hierdie magdom alkohol. Steynberg het aan die bedkassie en gordynkap geruk en gepluk en moes met kalmeermiddels tot bedaring gebring word. Erwee het die hof egter daarop gewys dat Myburgh se eksperiment gebrekkig was, omdat dit die omstandighede van 6 Desember 2008 nie genoegsaam gesimuleer het nie.

 

  1. Steynberg was onder baie druk op daardie stadium aangesien hy werkloos was

Die beskuldigde is tussen Oktober en November 2008 tydelik afgedank by Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit. Hy het wel steeds maandeliks betaling ontvang.

 

  1. ‘n Hoofbesering op 13-jarige ouderdom

Steynberg se ma het op 13 Mei vanjaar getuig dat haar seun op 13-jarige ouderdom in ‘n motorongeluk was. Hy is deur die voorruit geslinger en is na ‘n hospitaal in Bloemfontein geneem waar hy aangesterk het. ‘n Anti-epileptiese middel is vir hom voorgeskryf. Hy het nie vir ‘n opvolgbesoek gegaan nie en het daarna geen soortgelyke medikasie geneem nie.

Uit die magdom getuienis wat oor die afgelope sewe jaar voor die hof geplaas is, het Shai uitgewys dat daar een regskwessie is wat tans die kruks van sy regsbeslissing sal wees: het Steynberg oor die vermoë beskik om tussen reg en verkeerd te onderskei op die oomblik wat sy skoonsuster met ‘n skêr gesteek en die sewejarige se keel oopgesny is? Indien wel, kon hy in ooreenstemming hiermee optree?

Ons land se reg verwys terug na vroeëre beslissings in hoër howe wanneer daar beslissings gemaak word in strafsake. Die Hoogste Hof van Appél het in 2002 beslis dat iemand wat beweer dat hulle nie-patologies ontoerekeningsvatbaar was toe hulle ‘n misdaad gepleeg het, ‘n grondslag vir daardie verweer moet lê. Waar deskundige getuienis gelei is wat so ‘n grondslag gelê het, kan die staat weer ‘n deskundige getuie roep om dié vermoede te weerlê.

Erwee het nie so ‘n getuie geroep nie, omdat Myburgh se getuienis, volgens Erwee, verwerp behoort te word. Erwee het op rekord geplaas dat Myburgh se simulasie-eksperiment vol gebreke was. “Myburgh het onder eed erken dat sy haar waarnemings aangepas het om by haar gevolgtrekkings aan te pas. Die beskuldigde, wat onder die invloed van dagga was ten tye van die voorval, het nie dagga gebruik tydens die simulasie-eksperiment nie. “Geen dokter het haar bygestaan in die uitvoer van die eksperiment nie, Die simulasie is nie op video vasgelê nie, Die getuie het selfs erken dat die simulasie-eksperiment nie ‘n goeie een was nie en dat sy dit beter kon doen,” het sy gesê.

Potgieter het geargumenteer dat Myburgh wél as ‘n deskundige kwalifiseer en dat die simulasie goed genoeg was om die grondslag te lê wat vereis word. “Die staat het geen getuienis tot die teendeel gelei nie. Al wat voor die hof is, is die deskundige getuienis van Steynberg se nie-patologiese ontoerekeningsvatbaarheid en daarom moet daar bevind word dat hy nie aanspreeklik gehou kan word vir wat daardie aand gebeur het nie,” het hy namens Steynberg gesê.

Die saak is uitgestel tot 7 Augustus, wanneer Shai na verwagting uitspraak sal gee.

Baie Laevelders wonder van tyd tot tyd hoe dit met die slagoffer gaan. Laevelder het met haar ma gesels, wie in 2014 met ‘n pastoor getrou het. “Dit gaan so goed met haar,” sê haar ma en stiefpa trots. “Alhoewel die hof nog oor Francois Steynberg se skuld of onskuld moet besluit, het sy hom klaar vergewe. Die koerantuitknipsels oor wat met haar gebeur het en die hofsaak is in ‘n lêer. Sy het onlangs hierdie lêer vir ons gegee om te bêre, sodat sy die hoofstuk in haar lewe kan afsluit. Sy is gelukkig en sy beweeg vorentoe. Sy lewe.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button