MBOMBELA – Die ouerpaar van Barberton wat daarvan aangekla word dat hulle pornografie van hul dogtertjie op ‘n selfoon vasgelê het sal, volgens die Nelspruit Streekshof se geïntegreerde saakbestuursisteem weer op 17 November in die hof verskyn op ‘n klag van die onwettige besit van kinderpornografie.
‘n Winkelassistent het die twee ouers glo op 23 November 2013 bygestaan toe hulle hul selfoon in die stad se Cash Converters wou verpand.
Hy het die foon bekyk en glo oppornografiese materiaal van die egpaar se sewejarige dogtertjie afgekom. Die franchisee het die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe ontbied, wat die man en vrou na bewering dadelik gearresteer het.
Hulle het op 25 November 2013 in die Nelspruit Streekshof verskyn en borg is aan die beskuldigdes toegestaan.
Die saak is daarna herhaaldelik om verskeie redes uitgestel. Laevelder het vroeër berig dat die beskuldigdes, aldus ‘n bron na aan die ondersoek, dit oorweeg het om vertoë teen die klag teen hulle te rig. Die koerant het egter intussen bevestiging ontvang dat die klag teen hulle voortgaan. Die twee het verlede Vrydag in die Nelspruit Streekshof verskyn en die saak is uitgestel.
