Hard newsLifestyleLocal newsNewsNewsPeople

Kyk video: Melinda Bam en Anja van Zyl gesels oor ‘Womentality’

Die voormalige Mej. Suid-Afrika en eerste prinses het hulle 'vreeslose vrouwerkwinkel' in die Laeveld kom bemark.

MBOMBELA – Om mooi te wees, beteken nie noodwendig mens moet soos ‘n voorbladmodel lyk nie. Vir voormalige Mej. Suid-Afrika, Melinda Bam, en eerste prinses, Anja van Zyl, lê skoonheid in ‘n vrou se selfvertroue en -aanvaarding wat reeds van ‘n vroeë ouderdom gekweek moet word.

Dié twee skoonhede was hierdie week in die Laeveld om Womentality, hul “vreeslose vrouewerkswinkel” wat in September gehou gaan word, te bemark. Hulle het talle hoërskole in die omgewing toegespreek oor die belangrikheid van selfaanvaarding en die belangrike rol wat vroue eintlik in die samelewing speel.

“Daar is soveel verskillende platforms, soos tydskrifte en sosiale media, wat vir meisies probeer raad oor hul toekoms gee, asook hoe om hulself te dra, maar daar is bittermin persoonlike, gefokuste raad wat met die individu werk,” het Melinda gesê.

Die werkswinkel gaan handel oor hoe om die beste uit jouself as vrou te bring en hoe om jou potensiaal – op professionele én persoonlike vlak – ten volle te bereik.

Anja het die projek in 2012 geloods en vir Melinda kort daarna genader.

Daar is soveel maniere waarop ons ons vroulikheid kan vier, wat soveel wys van wie ons is wat net ontsluit moet word, het Melinda gesê.

“Meisies begin reeds op ‘n jong ouderdom, terwyl hulle nog ambisieus is, vra ‘wat is vroulikheid en waarheen is ek op pad?’,” het Anja bygevoeg. “So, ons wil ‘n netwerk stig waar meisies vreesloos vroulik kan wees en nie bang hoef te wees om hul vroulikheid raak te sien en vas te vat nie. Ons het ‘n hele holistiese uitkyk oor wat vroulikheid is, dit wil sê ons kyk na die liggaam, siel en gees van vrouwees.”

Womentality sal op 24 September by Emnotweni Arena gehou word. Ma’s, dogters, sussies en niggies sal tot ‘n heerlike ete en bederfpakkie – wat die vrou in elkeen sal uitbring – getrakteer word.

Kaartjies is by www.womentality.co.za beskikbaar.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button