
MBOMBELA – ‘n Transito- beampte van die Protea Coin Group is Maandag om 07:30 deur twee gewapende mans by die Village-sentrum oorval en beroof.
Volgens mnr. Shaun Terblanche van J&M Sekuriteit was dié beampte besig om ‘n geldtrommel buite die voertuig te dra toe twee mans op hom afgestorm het.
“Een van die vedagtes het sy vuurwapen teen die wag se nek gedruk en die ander in die wag se gesig,” het Terblanche gesê.
Hulle het die geld asook die wag se vuurwapen geëis waarna hulle met ‘n onbekende voertuig op vlug geslaan het. Kapt. Dawie Pretorius, provinsiale woordvoerder vir die SAPD, het die voorval bevestig.
“Op die stadium is dit nog nie bekend met hoeveel geld die verdagtes op die vlug geslaan het nie, maar ons kan wel bevestig dat die beampte geld by SPAR gaan haal het,” het Pretorius gesê.
Volgens hom is die polisie se lugvleuel ingeroep om die verdagtes vas te trek. Teen druktyd was niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die polisie het bevestig dat hulle ‘n saak van gewapende roof ondersoek.
