
Twee verdagtes is Maandagaand aangekeer nadat hulle na vermoede 1000-liter diesel gesteel het.
Mnr. Nico Grobler, operasionele bestuurder van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, sê een offisier, mnr. Wynand de Bruyn, het toevallig op die toneel afgekom terwyl hy op patrolliediens was. Dit het aan die onderkant van Besterstraat gebeur.
Daar was glo ‘n trok en twee bakkies met kanne en pype. De Bruyn het vir ondersteuning geroep en die verdagtes het op die vlug geslaan.
Hy en sy kollega, mnr. Chris Stapelberg kon egter die twee bakkies agternasit en aftrek. Volgens Grobler was daar 1 000-liter op die een, maar die ander voertuig het net leë kanne gehad.
“Ons weet nie of al die diesel uit slegs die een trok gekom het nie,” sê Grobler. “Dis ‘n groot probleem. Ons ontvang kort-kort oproepe van mense wat dit sien. Ons probeer gewoonlik op die registrasienommer die eienaar opspoor, hoewel dit nie regtig is wat ons doen nie – ons fokus meer op alarms wat afgaan by kliënte.”
“Maar iemand is besig om baie geld te verloor.”
Albei bestuurders is vir die diefstal van diesel en die besit van gesteelde diesel gearresteer. Die koerant verstaan dat die trokbestuurder op die vlug geslaan het.
Kapt. Dawie Pretorius, polisie-woordvoerder van Mbombela, het bevestig dat twee mense gearresteer is, maar dat die een intussen vrygelaat is. ‘n Saak van diefstal word ondersoek.
