Editor's choiceLocal newsNews

Bondeltjie geluk ‘n wonderwerk

Haar ouers, Coenraad en Anica Strydom se dokters het hulle tydens die swangerskap reeds voorberei vir die ergste: hulle baba sou dit nie oorleef nie

STEELPOORT – ‘n Klein vegtertjie. Dit is klein Axelle Strydom wat op 26 weke gebore is en slegs 900 gram geweeg het.
Haar ouers, Coenraad en Anica Strydom se dokters het hulle tydens die swangerskap reeds voorberei vir die ergste: hulle baba sou dit nie oorleef nie, maar vandag is hulle met ‘n klein wonderwerkie geseën.
“Ek het op 30 Desember 2014 vir die eerste keer uitgevind ek is reeds 10 weke swanger. Dit was ‘n groot verrassing omdat ons nie vir ‘n baba beplan het nie, maar ek en Coenraad was albei opgewonde. Ek was vir my maandelikse afsprake by ons huisdokter in Steelpoort. Met my eerste afspraak in Januarie het die dokter op die sonar twee ontwikkelde selle gesien, maar met my tweede besoek het die sonar egter gewys dat net een sel verder ontwikkel het. My kraamdatum was vir 10 Augustus 2015 geskeduleer, ” vertel Anica.
Die opvolgende twee maande het haar swangerskap glad verloop.
Drie dae na haar opvolgbesoek, het sy probleme ervaar en is terug dokter toe. “Hy het vir my gesê dit was infeksie en dat dit nie vir my of die baba ‘n gevaar inhou nie. Ek moes vir drie dae in die bed bly tot die infeksie sou opklaar.”
Na die drie dae is Anica terug werk toe, maar haar probleme was nie verby nie. Die komplikasies het vererger en Coenraad het haar na die noodkliniek in Steelpoort geneem waar die dokter ‘n sonar geneem het. Die baba se hartklop was normaal en hy het bedrus aanbeveel. Terug by die huis het Anica begin kla oor pyn wat later vererger het. “Ek het reeds kraampyne begin ervaar, maar ons het dit nie besef nie. Ek het haar die volgende oggend terug geneem na ons huisdokter toe. Sy was in kraam en ons is dadelik Middelburg toe gestuur as ‘n noodgeval,” vertel Coenraad.
Anica was byna 26 weke swanger toe sy in die MidMed Hospitaal opgeneem is. Daar is vasgestel dat sy reeds ontsluit het en haar ginekoloog het ook op die sonar vasgestel dat sy byna geen vrugwater gehad het nie aangesien dit tydens haar infeksie uitgeskei is. Die bietjie wat daar was, was besmet. Dit sou die swangerskap baie negatief beïnvloed het omdat die baba se longe op 26 weke nie ten volle ontwikkel is nie.
Sy het medikasie ontvang om die kraamproses te stuit en haar ginekoloog het ‘n berader vir Anica en Coenraad laat kom om hulle voor te brei vir die volgende stap: om die baba te verwyder sodra die infeksie verminder het omdat die baba nie sou oorleef nie. Die volgende dag, 21 Mei, het sy ‘n noodkeiser ondergaan. Coenraad is voorberei op die ergste dat Anica die operasie sou oorleef, maar nie die baba nie.
“Anica is onder verdowing geplaas en die operasie is begin. Sowat ‘n kwartier later, het ek ‘n geskreeu gehoor – die baba het oorleef!” vertel hy.
Die Strydoms is toe geseën met ‘n babadogtertjie nadat daar geen hoop was dat sy sou oorleef nie. Sy is dadelik aan ‘n suurstofmasjien en monitors gekoppel omdat sy slegs 900 gram geweeg het. Anica het die volgende dag haar dogtertjie vir die eerste keer gesien. Coenraad vertel dat sy pa, Corrie, die naam Axelle gekies het omdat dit liefde en vreugde beteken.
Anica is op 22 Mei ontslaan, maar klein Axelle moes nog vir twee maande in die hospitaal bly totdat sy twee kilogram weeg en self kon drink. Op
14 Junie kon die trotse ouers Axelle vir die eerste keer vashou en op 18 Julie is sy uit die hospitaal met ‘n stewige gewiggie van 2,5 kg ontslaan.”Ons wil graag net dankie sê aan almal wat ons bygestaan het deur die moeilik tyd en ook vir Coenraad se werkgewers, Ngululu Bulk Carriers en laastens vir die Rotariërs in Middelburg vir al hul gebede en ruikers wat ons ontvang het,” voeg Anica by.
Omdat klein Axelle so vinnig haar opwagting gemaak het, word Anica se ooievaarstee nou op 15 Augustus gehou. As daar enige vriende of familie is wat nog nie ‘n uitnodiging ontvang het nie, maar wil dit graag bywoon, kan hulle vir Ina Jacobs by 079-6912262 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button