
MBOMBELA – Die polisie het pas aan Laevelder bevestig dat nuwe inligting rakende die ontvoering aan die lig gekom het. Volgens kapt. Dawie Pretorius, woordvoerder van die plaaslike polisiestasie, het die insident nooit gebeur nie en het die kind oor die voorval gejok. Laevelder ondersoek die saak.
Laevelder het onderstaande in vandag se uitgawe publiseer:
MBOMBELA – Die gr. 5-leerling van Laerskool Laeveld wat Woensdagmiddag voor die skool ontvoer is, was nie gister by die skool nie.
Daar heers nog onduidelikheid oor wat presies gebeur het. Die kind is na wat verneem word baie getraumatiseer en sy ouers kon nog nie vasstel wat presies gebeur het nie.
Die skool het verdaag en die kind het buite die terrein gestaan. ‘n Mercedes Benz het na bewering by hom gestop waarna hy by die voertuig ingeboender is. Hy is glo links voor op die grond by die passasiersitplek ingedruk en die bestuurder het weggejaag.
Die kind het na bewering alarm gemaak en die bestuurder het hom by die Xcel-vulstasie by Westend uit die voertuig gegooi. Hy is ongedeerd. Kapt. Dawie Pretorius, woordvoerder van die plaaslike polisiestasie, het die voorval bevestig en bygevoeg dat die eenheid vir gesins- en seksuele geweld die voorval ondersoek.
Die leerling se pa het by navraag gesê dat hulle self nog nie presies seker is wat gebeur het nie. “Ons en ons kind is baie getraumatiseer. Hy praat maar deurmekaar en ons kon nog nie regtig presies vasstel wat gebeur het nie.
“Hy is geslaan en geskop, maar darem nie beseer nie,” het hy gesê.
Mnr. Theo Kruger, hoof van die skool, het by navraag gesê dat daar “verskeie bewerings” oor die ontvoering is. “Daarvolgens is die leerder by die skool in ‘n bruin Mercedes gelaai en later, nadat die leerling hom teëgesit het, by Westend uit die motor gegooi.
“Volgens sy ouers is hy ernstig getraumatiseer en het nie vandag (gister) die skool bygewoon nie. Die saak is tans in die hande van die polisie wat dit ondersoek. Etlike verklarings is ook by die skool deur onderwysers afgelê. Laerskool Laeveld ondersteun die polisie se ondersoek ten volle en bied reeds hul samewerking in hierdie verband. ”
Hy het bygevoeg dat hy gisteroggend met besorgde ouers gesels en hul die versekering en onderneming gegee het dat, ten spyte van sisteme wat reeds in plek is by die skool, hulle steeds sal poog om, sover moontlik, sekuriteit en veiligheid by die skool te verbeter.
“By Laerskool Laeveld is die veiligheid van ons leerlinge, ouers en personeellede, asook die veiligheid van besoekers vir ons ‘n dringende prioriteit. Die personeel en beheerliggaam beywer hulle om doelgerig stelsels en sisteme in plek te hê, en dit ook te verbeter in die belang van genoemde partye.”
