Mnr. Francois Steynberg (37), die beskuldigde in die berugte skêrsaak, is Vrydag vrygespreek op ‘n klag van poging tot moord omdat hy dronk was ten tye van die voorval.
Lees ook: Steynberg free after 7-year trial
Steynberg is aangekla vir poging tot moord en verkragting in Desember in 2008. Hy is daarvan beskuldig dat hy ‘n dogtertjie, toe net sewe jaar oud, probeer verkrag het. Toe sy haarself teëgesit en geskree het, het hy na bewering gepoog om haar keel met ‘n skêr af te sny.
Hy het egter tydens sy verhoor aangevoer dat hy nie geweet het wat hy doen nie omdat hy gedrink en dagga gerook het. Landdros mnr. Kgamu Shai het die verdediging se verweer – dat Steynberg nie verantwoordelik gehou kan word vir wat hy gedoen het terwyl hy onder die invloed van alkohol en dwelms was nie – aanvaar.
Dit het die algehele publiek en veral kenners, warm onder die kraag.

Dr. Sufran Smith is ‘n senior lektor in forensiese maatskaplike werk by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes Universiteit. Sy was sedert 2001 tot 2012 verbonde aan die polisie en het uitsluitlik seksueel misbruikte kinders geassesseer om verslae vir die hof voor te berei. Sy het haar mening oor die Steynberg-verhoor en uitspraak gedeel.
Ek dink die uitspraak is skokkend om die minste te sê. Dan kan elkeen wat hom/haarself aan ‘n misdryf skuldig maak bloot aanvoer hy/sy was onder die invloed van een of ander middel. Dit moet juis as verswarend tel, omdat dagga boonop ‘n verbode middel is.
Smith het voortgegaan: “Wat word van die samelewing se verantwoordelikheidsin? Ons vat net al minder verantwoordelikheid vir ons dade. Dit is my reg om te besluit of ek drank gaan gebruik, maar my verantwoordelikheid om nie ander mense se regte te skend wanneer ek dit doen nie. Indien ek dit nie oordeelkundig kan gebruik nie, moet ek dit nie gebruik nie. Dit is teen die wet om ‘n motor onder die invloed van drank te bestuur, maar dit blyk dat dit nie teen die wet is om ‘n kind aan te rand onder die invloed van drank nie.”
Sy het haar ook uitgespreek oor die toelaatbaarheid, al dan nie, van sielkundige me. Susanna Myburgh se eksperiment op Steynberg. Myburgh het hom 750ml whiskey gegee en sy gedrag waargeneem. Sy het getuig dat hy nie aanspreeklik gehou kon word vir sy dade terwyl hy dronk was nie.
“Ek betwyfel die betroubaarheid en geldigheid van haar eksperiment. Het sy vir hom dagga ook gegee? Sy het hom ‘n hele bottel whiskey gegee. Enigiemand sal onsamehangend optree na ‘n bottel whiskey. Inteendeel, die meeste mense sal hul bewussyn verloor.
Lees ook: Getuienis in Steynberg-skêrsaak verstom
“Daar is beslis ander faktore wat ook aanleiding tot sy gedrag gegee het, soos onder ander sy seksuele oriëntasie, wat nooit tydens die eksperiment oorweeg is nie.
“Daar word ook van breinbeserings en epilepsie gepraat. Dit is oneties van die sielkundige om haar mening hieroor te gee, want dit is nie haar spesialisveld nie. Watse chaos gaan daar nie uitbreek as elke sielkundige sy/haar pasiënte se gedrag met eksperimente wil toets nie?”
Mnr. Gerard Labuschagne stem saam. Hy het op Facebook uitgewys dat hy die staatsaanklaer, adv. Isabet Erwee, gehelp het om Myburgh te kruisondervra. “Myburgh het beweer dat hy aan epilepsie ly wat deur sekere middels veroorsaak word. Sy is nie bevoeg om epilepsie te diagnoseer nie. ‘n Verdere leemte is die feit dat sy nie vir Steynberg dagga ook gegee het nie. Die verdediging het ook meldig gemaak van ‘n ongeluk tydens sy kinderjare, waarvoor hulle egter geen bewyse kon lewer nie.”
Labuschagne het verder opgemerk dat Shai gesê het hy het geen keuse gehad as om die verdediging se weergawe te aanvaar nie, omdat die staat nie ‘n getuie geroep het om die teendeel te bewys nie. “Dit is wetlik nie reg nie. ‘n Landdros is onder geen verpligting om ‘n kundige se mening te aanvaar nie.”
Die slagoffer het getuig dat Steynberg gedreig het om haar te “slag” as sy verder sou skree. “Dit is ‘n aanduiding dat hy presies geweet het wat hy doen en dat dit verkeerd was,” het Smith bygevoeg.
Smith het ook haar kommer oor die slagoffer uitgespreek. Daar is voorheen berig dat sy aanvanklik nie sielkundige berading of plastiese snykunde aan die litteken aan haar keel mag ontvang het nie. Dit is ondermeer gedoen sodat die litteken as getuienis voor die hof gebring kon word en sodat die gebeurtenis nog “vars” in die slagoffer se geheue kon wees wanneer sy moes getuig. “As ‘n mens geweet het die beskuldigde sou vrygespreek word, kon sy vroeër met terapie begin het.”
