“Integriteit is nie onderhandelbaar nie”; Brig. Danie Hall neem afskeid
Hall groet ná dekades van geregtigheid en diens.
Die provinsiale bevelvoerder van die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie-ondersoeke, brig. Danie Hall, het 30 April vir oulaas sy kantoordeur agter hom toegemaak.
Valke-personeel het ‘n erewag vir hom gevorm toe hy die hoofkantoor verlaat.
Hall is ‘n oudleerling van Hoërskool Piet Retief, waar hy kaptein van die eerste rugbyspan was. Rugby was egter nie die enigste sport waarin hy uitgeblink het nie – die 800 m was ook een van sy gunsteling items.

Sy loopbaan het in 1985 ná matriek begin toe hy by die polisie in Ermelo aangesluit het.
“Ek het ‘n draai gemaak in Hillbrow ná kollege, voordat ek na Mpumalanga teruggekeer het,” vertel hy.
Hy is in 1991 tot sersant bevorder, in 1993 tot adjudant-offisier, in 1994 tot luitenant en in 1996 tot kaptein. Vanaf 2000 het hy vir bykans die helfte van sy loopbaan – 19 jaar – as luitenant-kolonel gedien, voordat hy in 2019 tot volle kolonel bevorder is. Twee jaar gelede het hy die rang van brigadier bereik.

Wanneer hy op sy loopbaan terugkyk, sê Hall sy mees opspraakwekkende saak was dié van die .22-reeksmoordenaar van Piet Retief.
Sy moeilikste saak?
“Dié reeksmoordsaak, omdat die verdagte aangehou moorde pleeg het en ons hom moes stop. Elke saak sonder leidrade is moeilik, maar om dit uiteindelik op te los en vir families geregtigheid te bring, is ‘n voorreg. Dit het my altyd groot satisfaksie gegee.”
Oor sake wat hy nooit opgelos het nie, sê hy: “In ‘n speurder se loopbaan sal daar altyd sake wees waaraan jy hard werk sonder ‘n deurbraak. Jy kan nie toelaat dat dit jou onderkry of definieer nie. As jy weet jy het alles probeer, moet jy daarmee vrede maak – anders gaan jy dit nie maak in hierdie beroep nie.”

Hall sê hy het deur sy loopbaan uitstekende bevelvoerders gehad. “Ek het by almal geleer en wil uit respek nie net een uitsonder nie.”
Sy lewensleuse?
“Moet nooit opgee nie en behandel alle mense met respek.”
LEES OOK: A hallmark moment for newly appointed Hawks brigadier in Mpumalanga
Oor hoe hy die druk van die beroep hanteer het, sê hy: “Ek het ‘n passie vir my werk gehad en geweet dit is my roeping. Moeilike tye gaan verby. Ek kan my nie indink hoe ‘n polisiebeampte dit sonder Christus maak nie. Ek het aan Jesus vasgehou. Dan natuurlik my vrou – ons het begin uitgaan toe sy in matriek was en ek ‘n konstabel was. Sy ken die lewe en was altyd daar vir my. Sy was my rots. My gesin en familie het dit makliker gemaak wanneer die storms gekom het.”
Hall sê hy kyk na opsies in die privaatsektor vir die toekoms.

Hy het ook verskeie mense bedank vir hul bydrae tot sy loopbaan.
“Al my bevelvoerders, veral my laaste bevelvoerder, genl.maj. Nico Gerber, wat my blootstelling as senior offisier gegee het. Hy het my verskeie kere as waarnemende provinsiale hoof aangestel – ‘n groot voorreg. Elke aanklaer wat my sake deur die hof gesien het, veral Ansie Venter, Erik van der Merwe en adv. Marile van Heerden van die DOV-kantoor in Johannesburg. Ek het nooit saam met hulle ‘n saak verloor nie. En my kollegas by die Valke – ons was soos ‘n groot familie.”
Sy raad aan polisiemanne is dat integriteit nie onderhandelbaar is nie en dat hulle hul beste vir elke klaer moet gee.
LEES OOK: KYK: In die Stoel met Laevelder: Pottie Potgieter
“Die arm man wie se fiets gesteel is, het alles verloor – sy vervoer werk toe en terug. Sy saak is net so belangrik soos dié van ‘n ryk man wie se sportmotor gesteel is. Moenie mense met status bevoordeel nie. Wees daar vir almal.”
Op die vraag oor sy stokperdjies sê hy dat sy werk sy stokperdjie was.
Laastens sê Hall dat mense gebalanseerd moet leef en tyd vir hul gesinne moet maak, selfs al is hulle besig.
Hy beklemtoon dat werk kan wag, maar dat ‘n mens nie ‘n kind se sportwedstryd kan inhaal nie. “Ek het dikwels verlof geneem om by die huis te wees, soos wanneer my vrou, Wanda, verjaar,” sê hy.
Gunstelinge:
• Gereg: Braaivleis met braaibroodjies, geroosterde groente, droëwors en Woolworths se bevrore kaaskoek vir spesiale geleenthede
• Musiek: Musiek uit die tagtigs en goeie Afrikaanse musiek
• Vakansie: See en bosveld
• Rugbyspan: Die Bulle en Bokke natuurlik.
Broertjie dood in: “Mense wat dink hulle is beter as ander en ander met minagting behandel. ‘n Arbeider verdien dieselfde respek. En ook mense wat verkeersreëls, soos sperstrepe en rooi ligte, ignoreer.”

