Bejaarde vroue vorder fondse vir hul kombuisie in
Inwoners van Pumalanga-ouetehuis het hul vrouemaand sommer op 'n hoë en produktiewe noot afgeskop met tee op die terrasse.
MBOMBELA – Die vroue van Pumalanga Aftreeoord het Saterdag Vrouemaand sommer met ‘n vrouedag van hul eie – met koek, tee en kitaarmusiek afgeskop.
Sowat 75 vroue het mekaar op die aftreeoord se terrasse op ‘n warm, Laeveldse wintersdag ontmoet om fondse vir hul eetsaal se kombuisie in te samel. Dié kombuisie, sê hulle, het ‘n wasbak en ‘n algehele opknapping nodig.
Die geld is deur kaartjieverkope en donasies van groot besighede en individue ingevorder.
Ons het lekker baie bymekaargemaak en ek glo ons sal genoeg hê om die kombuisie reg te kry,
het inwoner Baby Nel, wat ook die dag gereël het, gesê.
Vroue wat buite dié gebied woon, was ook welkom om die geleentheid by te woon en dit was ‘n reusesukses. Tussendeur die heerlike gekuier het die dames ‘n gelukkige trekking gehou waarvan die wenners geskenkbewyse vir etes, klere en vele meer gewen het.
Carine Classen en Carla Green het vir pragtige klanke op hul akoestiese kitare gesorg. Esperanza Steenkamp van die AGS Kerk Nelspruit het oor vrouwees vanuit ‘n geestelike oogpunt gepraat.
“Daar was ‘n effense koue windjie, maar ons het dit skaars gevoel, só lekker het ons gekuier,” het Tannie Baby gesê. “Ons almal was daardie aand so flou, ons het amper op ons voete aan die slaap geraak.”










