CrimeHard newsLocal newsNewsNews

Boere woedend oor plaasaanvalle

Nog 'n boer van 'n aangrensende kleinhoewe het gesê: "Ek gaan en ek sál reg in eie hande neem en die bliksems skiet. "

Boere in en om Barberton met wie hierdie publikasie Maandag gepraat het, het geen doekies omgedraai oor hulle gevoel teenoor plaasaanvalle nie. Dit nadat daar Sondagaand nog ‘n aanval was by die huis van ‘n bejaarde vrou en haar middeljarige dogter wat op ‘n plaas net duskant die Badplaas-afdraai bly.

“Ek is meer as gatvol vir die konstante inbrake op my plaas en sal nie huiwer om iemand van kant te maak wat my gesin bedreig nie. Ek wil weet wat die polisie se plan is, want dit lyk nie asof hulle enigiets doen omtrent die toedrag van sake nie!” het ‘n boer van die omgewing gesê.

‘n Ander boer, op dieselfde pad, wat eerstehandse ondervinding van ‘n plaasaanval het, het gesê: “As die bliksems op my grond is, gaan ek waaragtig nie vra hoe ek kan help nie – en veral nie in die nag nie. Wat soek hulle in die eerste plek daar?”

Barberton Times wou van die stasiebevelvoerder, Lt Col Sunbright Ndlovu, weet hoe die SAPS van Barberton beoog om hierdie probleem in die kiem te smoor. Na menige onsuksesvolle pogings om hom telefonies te bereik, hoop die publikasie om binnekort ‘n persverklaring van sy kantoor te ontvang.

Die jongste aanval het kort voor 20:00 Sondagaand gebeur. Volgens reaksiebeampte van Hi-Tech, Riaan Prinsloo, is hy deur Collin Walker van hul beheerkamer na die toneel ontbied, maar daar was toe reeds ander beamptes van Hi-Tech op die toneel. Hy sê met sy aankoms op die plaas, om en by 20:15, het hy die ma en dogter in die kombuis aangetref. “Hulle buurman was reeds daar en was besig om saam met die dogter druk op die bejaarde vrou se wond toe te pas,” sê hy. ER24 was kort daarna op die toneel en die SAPD oomblikke later.

Volgens Prinsloo is die voordeur een van die soort met klein glasvenstertjies. “Van wat ek verstaan, het die inwoners bewus geword van hulle hond wat buite woes te kere gegaan het, en was op pad om te gaan ondersoek instel. Die veiligheidshek is aan die binnekant van die voordeur en die ouer dame het dit oopgesluit, maar gelukkig nog nie die voordeur self nie, toe sy bewus word van die aanvaller. Die man het twee van die klein venstertjies stukkend geslaan en die dame met die panga op haar arm begin kap. Sy het op haar beurt hom met die veiligheidshek gemoker,” sê Prinsloo.

Hulle het die paniekknoppie gedruk en die aanvaller het op die vlug geslaan. By nadere ondersoek is die plek gekry vanwaar die booswig die huis gesit en dophou het – dit was langs die waterpomp. Hier het hulle springmielies asook ‘n koevoet en boutsnyer aangetref.

Die dogter se selfoonhouer is ook daar gevind. Die selfoon vermoedelik vroeër die aand gesteel toe hulle nog buite gesit het. Daar is op ander plekke op die plaas ook springmielies aangetref, vermoedelik toe die aanvaller op die vlug geslaan het. Die vrou, wat ernstige wonde aan haar arm opgedoen het, is na Mediclinic Barberton gehaas waar sy verdere behandeling ontvang het.

Nog ‘n boer van ‘n aangrensende kleinhoewe het gesê “Die sekuriteit neem 15 minute en die SAPD soms ure om by ‘n toneel uit te kom. Statistieke bewys dat kleinhoewes en plekke waar mense in afsondering bly, al hoe meer geteiken word. Die polisie behoort proaktief te wees in hulle aksies. Ek stem daarvoor dat die kommando’s weer op die been gebring word sodat die boere almal kan aansluit en slegs ‘n burgerbandradio ver van hulp is. Die weermag moet ook betrek word om patrollies te doen, want slegs hulle teenwoordigheid sal die aanvallers en skelms afskrik.”

“Die padstalletjies is ‘n groot probleem en dis maklik vir ongeruimdhede om daar plaas te vind. Vreemde mense sit heeldag by die eienaars van die stalletjies. Ek kan niks doen as iemand heeldag daar sit nie, maar dis ‘n lekker front terwyl hy eintlik besig is om alles dop te hou wat op my werf aangaan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button