Egpaar ongedeerd na aanval
KOMATIPOORT – Bekende inwoners van ‘n huis in Waterbokstraat is Maandagaand net na donker deur drie gewapende rowers oorval. ‘n Man, sy vrou en skoonma is vasgebind en die verdagtes is met huisraad en twee voertuie vort. Behalwe vir skaafwonde is niemand beseer nie. Die slagoffers is mnr. Johan Kemp, bestuurder van Border Market, sy vrou Stompie en haar ma, Hester Burger. Die drie is met …

KOMATIPOORT – Bekende inwoners van ‘n huis in Waterbokstraat is Maandagaand net na donker deur drie gewapende rowers oorval. ‘n Man, sy vrou en skoonma is vasgebind en die verdagtes is met huisraad en twee voertuie vort. Behalwe vir skaafwonde is niemand beseer nie. Die slagoffers is mnr. Johan Kemp, bestuurder van Border Market, sy vrou Stompie en haar ma, Hester Burger. Die drie is met hul tuiskoms die aand oorval. Die huis is gestroop en die booswigte het met ‘n Toyota Fortuner en Opel Corsa gevlug. Die polisie het bevestig dat Burger aan ‘n stoel vasgemaak is, terwyl die egpaar op die vloer moes lê waar hulle hande vasgebind. Een rower het sy vuurwapen op hullegerig terwyl die ander huisraad uitgedra het. Juwele en selfone is ook gesteel. Na die rowers weg is, het die egpaar hulself losgewikkel. Kemp het by ‘n nabygeleë huis gaan hulp soek vanwaar die sekerheidsdiens, Securicon Lowveld geskakel is. Ofskoon die Kemps nie lede van die diens is nie, is ‘n operasionale span onmiddellik na die huis gestuur waar die twee getraumatiseerde vroue gewag het. Securicon sê hulle het min inligting tot hul beskikking. Die SAPD en die opsporingsmaatskappy, Tracker waar die voertuie geregistreer is, is geaktiveer. Daar is deur die loop van die aand vasgestel dat die Fortuner naby Mbuzini, waarskynlik na die grens op pad is. Securicon, die SAPD en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het die leidraad opgevolg, maar die verdagtes het reeds weggekom. Die Opel Corsa is in die vroeë oggendure wel langs die pad gevind. Volgens Securicon se Facebook-blad het daar omtrent ‘n uur tussen die gebeurtenis en die eerste aanmelding van die voorval verloop. Dit het die verdagtes genoeg tyd gegee om weg te kom. Dié misdadigers kan moontlik ook met ‘n gebeurtenis ‘n paar weke gelede in Bourhillstraat verbind word, waar ‘n Toyota Hilux gesteel is. ‘n Paar dae later is die voertuig in Xai-Xai in Mosambiekopgespoor. Dit was ook by ‘n perseel sonder enige alarmstelsel. Daar word vermoed dat die verdagtes die Kemps se woning vir ‘n tyd lank dopgehou het en dat dit goed beplan en uitgevoer is. Securicon het inwoners van Komatipoort weereens gemaan om voorbereid en oplettend te wees vir verdagte mense wat skielik in die straat opduik.
