MBOMBELA – Die vier sogenaamde Onderberg ninjas het Dinsdag vlugtig in die Nelspruit Streekshof verskyn vir die uitstel van die saak teen hulle.
Die vier Mosambiekers is só gedoop nadat hulle glo samoerai-swaarde in die roof van plase gebruik het. Laevelder het vroeër berig dat die vier op 23 November 2011 gearresteer is nadat meer as 100 gemeenskapslede, sekuriteitsmaatskappye en lede van die polisie saamgespan het om die verdagtes vas te trek.
Lees: So het Onderbergers die ninjas vasgetrek
Hierdie arrestasie is voorafgegaan deur ‘n vlaag plaasaanvalle en rowe wat die Onderberg in daardie jaar geteister het. Mnre. Moses Silinda (31), Pieto Gwambe (28), Sam Chauke (37) en Venas Gavane (28) staan tereg op onder meer drie klagtes van roof met verswarende omstandighede, menseroof, en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Laevelder het vantevore berig dat verskeie staatsgetuies die gebeure wat drie van die vier (Silinda, Chauke en Gavane) se arres voorafgegaan het, aan die hof voorgehou het tydens hul vorige hofverskynings. Nadat die beskuldigdes deur van hul slagoffers tydens ‘n foto-uitkenningsparade geëien is, het Laevelder foto’s van die verdagtes gepubliseer en die gemeenskap gewaarsku om op die uitkyk te wees vir hulle.
Hulle het glo op 23 November 2011 weer toegeslaan. Konst. Delphas Mlandzi het getuig dat hy daardie oggend na ‘n toneel ontbied is waar hy op ‘n skoenspoor afgekom het. ‘n Gipsafdruk is hiervan gemaak, wat volgens getuies ooreenstem met die voetsoolafdruk van ‘n All Star-tekkie wat van een van die beskuldigdes gevat is tydens die inhegtenisname van Silinda, Chauke en Gavane. Die vierde beskuldigde, mnr. Pieto Gwambe, is later daardie aand gearresteer. Die volgende verhoordatum vir die saak sal in September bevestig word.
