CrimeGalleriesLifestyleLocal newsNewsNewsPeople

Gesin vertel self van roof

KOMATIPOORT – Een van Corridor Gazette se korrespondente het verlede week ‘n draai by Johan en Stompie Kemp en haar moeder, Hester Minnaar (77) gaan maak. (nie Burger soos daar verlede week berig is nie). Johan het ‘n gesinchroniseerde weergawe gegee van wat werklik die aand met die gewapende roof gebeur het.Die gesin het Maandag …

KOMATIPOORT – Een van Corridor Gazette se korrespondente het verlede week ‘n draai by Johan en Stompie Kemp en haar moeder, Hester Minnaar (77) gaan maak. (nie Burger soos daar verlede week berig is nie). Johan het ‘n gesinchroniseerde weergawe gegee van wat werklik die aand met die gewapende roof gebeur het.Die gesin het Maandag 17 Augustus om 19:00, nadat hulle buite gesit en eet het, die huis binnegegaan en die voordeur vir die hond oopgelos. Die volgende oomblik het drie gewapende rowers hulle begroet. Daar is nie sekerheid of die rowers reeds in die huis was en of hulle toegang deur die oop deur verkry het nie. Die verdagtes het hulle beveel om nie te beweeg nie, anders sou hulle skiet. Daar is op voertuigsleutels, geld en vuurwapens aangedring. Een van die booswigte het die huis deursoek om te kyk of daar nog enige ander mense is en skoenveters saamgebring waarmee die familie vasgebind is. Johan is vir geld en vuurwapens deursoek en in die eetkamer op die vloer met sy hande agter die rug vasgebind. Die worshond is in die badkamer toegemaak aangesien hy onophoudelik geblaf en die rowers geïrriteer het. Stompie is beveel om op die vloer in die hoofslaapkamer te lê en haar hande is voor haar vasgebind, en haar moeder is na die gastekamer gelei. Sy is met ‘n handdoek toegegooi. Sy het die geleentheid gebruik om die veters met haar tande te begin losbyt. “As ek iets hoor of wanneer hulle in ons rigting kom, het ek doodstil gelê en voorgegee dat ek nog steeds styf vasgemaak is.” Haar man het homself ook losgewikkel en nadat hy gewaar het dat dit veilig is, het hy na die kombuis beweeg. Hier het hy sy vrou – ook losgemaak – aangetref. Stompie het haar moeder se hande met ‘n skêr losgesny. Die tuinjong is ook vasgebind toe die rowers die voertuie wou vat en hulle deur sy teenwoordigheid verras is. Stompie het na Jurie en Marina Snyman, vriende van die gesin, gehardloop. Marina het Securicon Lowveld geskakel, waarna Gerhard Coetzer, eienaar van die maatskappy, minute daarna self op die toneel opgedaag het. Hul buurvrou, wat self ook by die SAPS werksaam is, het die polisie geskakel. Een van die gesteelde fone is ook ‘n paar keer geskakel. Daar kon duidelik gehoor word hoe die rowers hardloop. Hulle het met die gesin se ander motor, ‘n Toyota Fortuner deur Mbuzini gevlug tot naby die Samora Machel Monument, waar hulle oor die berg Mosambiek in verdwyn het. Die voertuig is steeds soek. Johan is Dinsdagoggend met die goeie nuus geskakel dat sy Opel Corsa langs die pad naby Naas gevind is. Die bakkie is ongedeerd. Die twee vroue het vertel dat die ervaring angswekkend was. Die onsekerheid van wat moontlik kon gebeur – die vrees vir hul lewens en verkragting, asook die magteloosheid om so uitgelewer te wees aan misdadigers, was net verskriklik. Stompie is veral bekommerd oor die effek wat die voorval op haar bejaarde moeder sou hê. Die straatligte in Waterbok-straat is maar yl gesaai en met Liebenbergstraat aan die agterkant van die Kemp-gesin se huis, wat ook donker is en bome weerskant van dit het, is dit maklik vir enige voornemende misdadiger om skuiling te vind en op die “regte” tyd toe te slaan. Foto’s is op sosiale media versprei van ‘n man wat by die dorp se sportklub gevind is en voorheen vir ‘n gesteelde selfoon gearresteer is. Hy is verlede week ook opgemerk waar hy aan motors op dieselfde terrein gepeuter het. Hy het in onderonsies betrokke geraak en is vir aanranding in hegtenis geneem. Hy is die volgende dag weer vrygelaat. Daar is aanvanklik gedink dat die man ook met die gewapende roof in Waterbokstraat verbind word, maar nadat Johan die foto mooi bekyk het, het hy gesê dat hy nie betrokke was nie. Die drie verdagtes was baie jonger en was baie netjies aangetrek en het glad nie gelyk soos misdadigers nie. Die een man is skraal en is omtrent ‘n koplengte langer as die ander twee, waarvan een meer fris gebou is en die ander ook skraal. Inwoners word gemaan om versigtig te wees en op die uitkyk te wees vir enige verdagtes in die dorp se strate.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button