MBOMBELA – Die lys klagtes teen mnr. André Laubscher, is drasties verkort nadat ‘n aantal daarvan teruggetrek is. Hy staan nou net tereg op een klag van diefstal met valse voorwendsels waarvoor hy oor ‘n maand in die Nelspruit Landdrroshof moet verskyn.
Laevelder berig sedert Februarie oor die sake teen Laubscher. Hy is gearresteer nadat lede van die polisie en Bossies Community Justice hom in ‘n plaaslike gastehuis opgespoor het. Laubscher, wat die polisie glo probeer ontwyk het, het kort daarna in die hof verskyn. Hy is aangekla van diefstal, crimen injuria en intimidasie.
Sers. Gerald Sedibe, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Laevelder gesê dat Laubscher sedert 2011 vervolg word op aanklagte van diefstal, waarop hy onskuldig gepleit het. Hy het glo ‘n voertuig gekoop en in besit geneem waarvan hy nooit die volle koopprys betaal het nie. Hy is daarvan aangekla dat hy die voertuig se onderdele stuk-stuk verkoop het. Volgens ‘n tweede diefstalklag het Laubscher ook ‘n trekker ingeneem sonder om die koopprys daarvoor te betaal.
Intimidasie en crimen injuria is in Februarie by die lys klagtes teen hom gevoeg. Sedibe het gesê dat Laubscher glo die ondersoekbeampte en die klaer in een van die sake teen hom geïntimideer het.
Laevelder het in April berig dat mnr. Johan Cronjé saam met Laubscher aangekla is. Die klagtes teen die twee het verband gehou met die koop van ‘n voertuig in Januarie vanjaar. Cronjé het kort na sy eerste hofverskyning selfdood gepleeg. ‘n Afskrif van Cronjé se verklaring is aan die koerant voorsien. Hy het enige betrokkenheid in die saak ontken.
“Klagtes van intimidasie, crimen injuria en diefstal teen Laubscher is teruggetrek,” het Pretorius Woensdag aan Laevelder bevestig. Pretorius het genoen dat daar sprake is van ‘n pleitooreenkoms tussen Laubscher en die staat, maar geen verdere inligting verskaf nie. Laubscher sal weer op 29 September in die Nelspruit Landdroshof verskyn.
