Aankoms van ‘n nuwe hings die einde van ‘n era
Die einde van 'n era het onlangs aangebreek toe die ou teelhings van die geheimsinnige trop wilde perde op Paardeplaats van kant gemaak is
LYDENBURG – Die einde van ‘n era het onlangs aangebreek toe die ou teelhings van die geheimsinnige trop wilde perde op Paardeplaats van kant gemaak is.
Volgens die eienaars van Paardeplaats (plek van die perde), Gerda en Brian Whitehorn, het die hings die afgelope ruk baie gely. Die hartseer besluit is toe gemaak om hom uit te sit.
Dié perd wat al vir meer as 20 jaar die septer in dié trop geswaai het, het een van sy oë verloor as gevolg van vlieë wat eiers daarin gelê het en hy het ook baie maer geword. Sy tande was stomp en gevolglik kon hy nie meer eet nie. Hy is by die aasvoël-restaurant op die plaas geskiet.
Daar is darem ook ‘n gelukkige einde, want ‘n splinternuwe hings is ook terselfdertyd ingebring. Die hings, Chrisjan, ‘n pikswart Percheron is dieselfde dag na ‘n kamp op Paardeplaats gebring.
Chrisjan behoort aan ds. Fred Wilson se seun, Joshua. Wilson verduidelik dat Chrisjan op ‘n bergplaas in Roossenekal gebly het met dieselfde ligging, hoogte bo seespieël en suurgras as dié op Paardeplaats. “Ons het die besluit geneem om Chrisjan daarheen te neem. Ons ken vir Gerda en Brian goed en kan hom nie in die dorp aanhou nie.”
Joshua gaan elke week vir Chrisjan kuier om hom te ry. “Hy het ‘n baie sagte geaardheid. Dit lyk of hy goed aanpas. Hy was eers in ‘n kamp op die plaas, maar loop nou rond. Daar is ander hingste in die trop, maar tot dusver was daar nog nie konflik tussen hulle nie.”
Daar is baie fabels en bespiegelinge oor die perde van Paardeplaats wat deel vorm van die mistiek van die diere.
Net soos daar bespiegelinge is dat die perde saam met die Voortrekkers na die omgewing gekom het, is daar ook die moontlikheid dat dié diere hulle oorsprong het toe daar goud ontdek is.
“Chrisjan sal nou waarskynlik op Paardeplaats bly tot hy die ewigheid ingaan,” skerts Wilson.
