WHITE RIVER – Nóg ‘n veldslag is Woensdag in Suid-Afrika se oorlog teen renosterstropery gewen toe twee Mosambiekers vir 11 jaar tronk toe gestuur is. Hulle is met jaggewere in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) betrap en aangekeer voordat hulle kon stroop.
Veldwagters het Phinias Sithole (23) en France Nkuna (22) in Oktober verlede jaar vasgetrek in die KNP se Onder Sabie-omgewing. Volgens nasionale polisiewoordvoerder Brig Vishu Naidoo, was die twee gewapen met ‘n jaggeweer en ‘n byl. Hulle is in hegtenis geneem en aangekla van die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie sowel as betreding.
Die twee is gevonnis tot 11 jaar agter tralies – vyf vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen, vyf vir die onregmatige besit van ammunisie en een jaar vir betreding.
Die staat se saak teen vermeende stropers, mnr. Boet Mashego en mnr. Micheal Sithole, is Dinsdag in die Nelspruit Streekshof versterk deur middel van ballistiese getuienis. Mashego, ‘n SANDF-soldaat en Sithole is in September 2010 gearresteer nadat veldwagters hulle aan weerskante van die wildtuin se grens betrap het. Alhoewel daar renosterhoring in hul besit gevind is, beweer die twee dat hulle onskuldig is – hulle was glo op soek na kruie en vee toe hulle gearresteer is.
Dit is Dinsdag op rekord geplaas dat ‘n jaggeweer wat op die toneel gevind is, die gelisensieerde eiendom is van Mashego. Volgens ‘n kenner se verslag, is koeëls waarvan die punte op die toneel opgetel is, deur hierdie geweer afgevuur. Die saak sal op 21 September voortgaan wanneer die beskuldigdes sal aansoek doen om ontslag op die klagtes teen hulle.
Die sogenaamde “SANParke-vyf” het ook vlugtig in die Nelspruit Streekshof verskyn. Mnr. Duncan Mnisi, mnr. Tiyene Mabunda, en mnr. Charles Mabunda sowel as egpaar mnr. Doctor Mabuza en me. Ellerine Jennifer Brown, staan sedert 2012 tereg op verskeie klagtes verwant aan renosterstropery.
Vier van hulle het na bewering een van die KNP se voertuie gebruik om ‘n renoster te stroop in die park se Pretoriuskop-area.
Die saak teen hulle is tot Februarie, 2016 uitgestel.
