Gelukkige einde vir weggooi-honde
Beide honde wat vir die dood agtergelaat was, het nou nuwe eienaars.

LYDENBURG – Beide honde wat vir die dood agtergelaat was, het nou nuwe eienaars.
Die honde, albei tewe, se vorige eienaars het hulle in die erf van hulle huurhuis agtergelaat verlede Woensdagmiddag toe hulle verhuis het.
Die diere was glo vir drie dae sonder water of kos voor me. Cathy Shutte van hulle dilemma in kennis gestel was. Sy het intussen twee keer ‘n dag die honde gaan kos en water gee.
Die gestreepte bruin teef is vanoggend kom haal deur mnr. Paul Ngobeni. Hy het spesiaal 45km gery om sy nuwe troeteldier te kom haal.
Ngobeni bly op ‘n plaas in die Bosfontein-omgewing. Die teef het dadelik in sy kar gespring en ‘n band is vinnig gesnoer tussen hulle.
Hy het aan die koerant vertel dat hy nie kan glo dat mense hulle honde netso los nie. “Ek gaan baie mooi na haar kyk. Sy is ‘n mooi hond.”
Ngobeni het die koerant en Home 4 Paws ook uitgenooi om enige tyd te kom kyk hoe dit met haar gaan.

Die jong Sharpei het ook vanmiddag na haar nuwe huis gegaan. Me Petro van Heerden van Burgersfort gaan dié liefdevolle hondjie inneem. Mnr. Wynand Lusse het haar spesiaal na Burgersfort vervoer na haar nuwe huis. Albei honde het voor hulle na hulle nuwe tuistes geneem is, eers ‘n hondsdol-inenting gekry by die staatsveearts.

Die Steelburger/Lydenburg Nuus en Home 4 Paws will graag die gemeenskap en in besonder die nuwe eienaars bedank vir die tweede kans wat dié weggooi honde gegun is.
